Hoeveel ouers hul kinders met huiswerk moet help, bly omstrede, veral aangesien ouerbetrokkenheid dikwels ’n direkte impak het op die punte wat kinders kry.
Lees meer in ons 25 September-uitgawe
Shanda Luyt
Martie Kruger, ma van twee van Durbanville, erken sy het al gewonder hoe haar kinders op skool sou doen as sy niks help nie. “Ek dink regtig die helfte van kinders se punte hang af van hoe betrokke die ouers is en dis eintlik hartseer, want nie alle ouers kan help nie.”
Dan is daar natuurlik ook die kwessie van onregverdige mededinging as ’n kind se poging met ’n ouer s’n moet meeding, of die impak wat ouerhulp op kinders se langtermyn- vaardigheidsontwikkeling het. Soos ’n ma van drie kinders, Liesl Engelbrecht van Durbanville, dit stel: “Daar is baie faktore by die huiswerkdebat betrokke: die ouderdom van die kind, die vermoë van die kind, die tipe huiswerkopdrag, die ingesteldheid van ouer en kind teenoor huiswerk, die tyd en geriewe tuis beskikbaar … die lys is lank.”
Ons het ’n paar ma’s gevra hoe hulle oor huiswerk voel en hoeveel hulle help. Soveel ma’s, soveel menings …
Bianca van Rooyen van Vereeniging, ma van drie: “Die kinders het sulke vol dae en skedules. My seuns kom 15:00 in die middae eers by die huis en dan is hulle uitgeput! Dan pak ons huiswerk met ’n helse stryd aan … Ek glo take is hopeloos te ingewikkeld vir die ouderdomsgroepe. My graad 2-kind moes onlangs ’n nuusberig skryf en nuus lees in die klas … Ek haat huiswerk, maar moet my kinders positief hou en motiveer. Ek dink die druk is te veel op ons kinders.”
Liesl Engelbrecht van Durbanville, ma van drie: “My skoolgaande kinders is tans graad 3 en graad 6. Waar moontlik, laat ek hulle eers self probeer en help dan waar hulle vashaak. My man se wiskunde-verduidelikings is 150% beter as myne, so hy hanteer dit en dikwels natuurwetenskap ook. Ek help weer meer met tale. Met take is ons gelukkig dat die skool vra dat die kinders die inligting saambring en by die skool voltooi. So, tuis help ek hulle om vaardighede in verband met navorsing te leer. Maar die goue reël bly steeds: Probeer eers self!”
Veruschka Conradie van Humansdorp, ma van twee en nasorgjuffrou: “My meisiekind is nou in graad 1. Ek help haar natuurlik, maar wil haar leer om self goed te doen. Ek sal altyd my kinders help, maar hulle moet hul eie idees en insette gee. Dis al hoe hulle sal leer. Ons as ouers moet ons kinders op die regte pad help, maar dit nie vir hulle doen nie, want hoe op aarde gaan hulle leer en ontwikkel? Ons moet betrokke wees, maar nie oorvat nie. My man, ’n hoërskoolonderwyser, het al vele take gekry wat ouers gedoen het. Dan kry die leerder in elk geval ’n slegte punt. Dis hoekom leerders by ons laerskool nie meer take by die huis mag doen nie, maar by die skool moet kom doen. Ons moet onthou ons berei ons kinders vir universiteit en werk en hul eie lewe voor: Hoe gaan hulle funksioneer as ons hulle met die lepel voer? As die las te swaar raak, raak ’n bietjie rustiger met al die buitemuurse aktiwiteite. Skoolwerk is tog belangriker.”
Elana Grobler van Murraysburg, ma van twee: “My kinders is in ’n koshuis. Vanaf graad 1 tot 3 was daar iemand wat met huiswerk gehelp het. Vanaf graad 4 werk hulle op eie stoom, maar daar is darem altyd iemand beskikbaar wat kan help as hulle vashaak. So doen ek dit ook by die huis oor naweke: As daar huiswerk is, doen hule dit self en ek sal ’n leidende rol speel as hulle vashaak.
“By ons kry die kinders geleentheid om inligting vir ‘n taak bymekaar te maak en dan doen hul dit in die klas klaar, so vir my laerskoolkind help ek met vertaling as dit nodig is en ek gee leiding oor die struktuur van die taak, maar die groot werk word in die klas gedoen. Dit skakel ouers uit wat take doen. Die kind doen tog iets oor ’n onderwerp wat hulle in die klas behandel het en as die ouer die taak skryf, leer die kind niks daaruit nie.”
Nokkie Joubert van Jeffreysbaai, ’n ma van twee universiteitstudente: “Ek het nooit my kinders met huiswerk gehelp nie. Hulle is nou saam met my bly dat hulle onafhanklik kon leer werk. Dis definitief ’n pluspunt noudat hulle op universiteit is.”
Lelani van der Merwe van Durban, ma van twee: “Ek dink huiswerk is goed vir hersiening, maar dit moet min en maklik genoeg wees dat kinders dit self kan doen. Ek geniet dit om te sien watter werk my kinders doen en partymaal het my dogter, Lily, nodig om eers vir my te verduidelik hoe dit gedoen moet word, voordat ek haar met iets kan help! Ons het groot pret met take en ek geniet dit om hulle te leer hoe om op die internet vir foto’s of inligting te soek. Ek gee leiding en help lees, maar hulle besluit self wat hulle gaan sê en plak.”
Linda Grobler van Centurion, ma van vier: “Ek voel huiswerk moet van so ’n aard wees dat die kind dit self kan lees, verstaan en doen en sodoende sien waar hy sukkel en dan moet ouers help. Take moet ook maklik genoeg wees vir die kinders om self te doen. Huiswerk moet ook nie so baie wees dat die kinders ná sport eers nege-uur saans klaarkry nie.”
GEPASTE HULP VIR ELKE FASE
Ons het by Alet Marais, opvoedkundige konsultant van Tuishulp, ’n organisasie wat ouerleiding oor huiswerk gee, vir riglyne oor huiswerkhulp aangeklop:
Grondslagfase: Ouers moet nou meer by hul kind se huiswerk betrokke wees as in latere grade, maar dis belangrik dat jy reeds in hierdie fase jou kind onafhanklikheid leer, sê Alet. “Die belangrikste wat jy kan doen om jou kind met huiswerk te help, is om te luister as hy of sy lees. Kinders moet daagliks hardop lees. Dis nie nodig dat jou kind ’n hele boek vir jou voorlees nie – ’n bladsy of twee is genoeg. Wees positief en prys jou kind as hy of sy lees. Moenie heeltyd luister vir foute en jou kind op sy foute wys nie. Help hom of haar as hy of sy onseker is en jou vra vir hulp, maar laat jou kind toe om ontspanne te wees by jou. As jou kind sukkel met lees, gesels met die onderwyser oor hoe jy kan help. Laat jou kind ook daagliks tel (vorentoe, agtertoe, in twees, dries, vywe en tiene). Gewoonlik sal die onderwyser in die huiswerkboekie aandui wat jou kind moet doen.”
Graad 4-9: Vanaf graad 4 begin kinders met formele toetse, eksamens en take. Dieselfde riglyne geld as vir grondslagfase wat roetine betref, sê Alet. “Die rol van die ouer is ondersteunend. Jy as ouer moet jou kind ondersteun en motiveer. Moet nooit jou kind se huiswerk vir hom of haar doen nie en moenie in die slaggat trap om sy of haar opsommings te maak nie. Die patroon wat jy nou vestig, gaan lewenslank jou kind se leerpatroon wees en wil jy regtig in matriek en ná skool nog sy of haar opsommings maak? Help jou kind om beplanning te doen (byvoorbeeld ’n hersieningsrooster of studieroetine) en laat jou kind toe om aan jou te kom verslag lewer oor wat hy of sy afgehandel het, maar laat hulle die huiswerk op hul eie doen.”
Hoërskool: Jou rol as ouer bly ondersteunend, sê Alet. “Jou kinders het nodig om te weet jy is daar om hom te ‘vang’ as dit sleg gaan. Stel belang in die skoolwerk. Vra uit oor wat hulle geleer het. Wys vir jou kinders interessante artikels in die koerant of op die TV. Verseker hulle voortdurend van jou onvoorwaardelike liefde.”
Jy kan nooit te vroeg begin om jou kind selfstandigheid te leer nie en as jy dalk ’n bietjie gefaal het, is dit nooit te laat om te begin nie, sê Alet. “Gee van kleins af vir jou kinders keuses en laat hulle verantwoordelikheid aanvaar vir hul keuses. As hulle nie sy huiswerk doen nie, laat toe dat hulle die les leer deur in die skool daarvoor gestraf te word. Sorg vir ’n oop kanaal tussen jou en jou kinders en wees daar vir hulle. Ondersteun, motiveer en begelei, maar moet nooit ooit jou kinders se lewe vir hulle lei nie. Kinders leer deur jou voorbeeld. Jou kinders moet weet jy plaas ’n hoë premie op skool en geleerdheid. Sorg dat jou kinders jou sien lees en demonstreer die vaardighede wat jy wil hê hulle moet aanleer.”
WERK SLIM MET HUISWERK
Vir kinders wat nie gemotiveerd is nie of sukkel om te konsentreer, beveel Alet die volgende praktiese wenke aan om hulle aan te moedig:
– Stel ’n horlosie en kyk hoeveel somme hulle binne vyf minute kan doen
– Daar is oulike selfoontoepassings beskikbaar soos Time Timer. Hier’s ‘n skakel na Time Timer in die Apple-App-winkel en Time Timer in die Android-App-winkel.
– Laat klein belonings toe, byvoorbeeld: “As jy met al jou huiswerk klaar is, mag jy vir ’n paar minute op die rekenaar speel.”
– Gee jou kind ’n keuse: “Wil jy eers jou somme doen of eers jou taalwerk?”
– Maak ’n aftiklysie waarop jou kinders kan afmerk waarmee hulle klaar is. Dit laat hom voel hulle het iets bereik en hulle vorder.
Nog raad van Alet: “Stel ’n roetine vas. Elke huis het sy eie roetine, maar dis belangrik dat jou kinders moet weet wanneer dit huiswerktyd is. In die tyd wat huiswerk gedoen word, is die TV en rekenaar afgeskakel en daar word aandag aan skoolwerk gegee. Jou kinders moet hul eie plekke hê, al is dit net ’n plekkie langs die kombuistafel. Verwyder dinge wat hul aandag kan aftrek. Kinders kan nie huiswerk doen as hulle honger is nie, so sorg dat hulle klaar geëet het.”
HET JY GEWEET?
’n Opname deur die Britse opvoedkundige handelskou Bett onder 2 000 ouers in Brittanje het bevind twee derdes van dié ouers het hul kinders met hul huiswerk gehelp en een uit ses het gereeld al hul kinders se huiswerk vir hulle gedoen!