“Dit voel vir my al wat ek doen, is ‘nee!’ sê.”
Dis ’n gewilde gespottery dat ouers sê hul kind se eerste woord gaan waarskynlik “nee” wees. Nirveda Moodley, Gautengse kliniese sielkundige, sê wanneer jy voel al wat jy doen is om negatief te reageer, probeer een van die volgende twee sienswyses:
Antwoord positief, maar volg dit op met wat jy van jou kind verwag: “Ja, jy kan jou poeding kry, maar dan moet jy eers jou groente eet.”
Of laat jou kinders toe om hul behoefte te verbaliseer en verander dan jou mening as die standpunt wel sterk genoeg is om jou te oortuig. As ’n kind vir jou sê: “Mamma ek het vandag soveel groente en vrugte geëet en ek het al helfte van my kos geëet” en die redenasie is goed geverbaliseer, dan kan jy jou siening rondom die saak verander.
Nirveda sê sy heg baie waarde aan die sirkel van sekuriteit-ouerskapprogram.
Dié program is op 50 jaar se navorsing gegrond oor hoe die ouer-kind-verhoudingsband ondersteun en versterk kan word. Die teorieë hieromtrent fokus daarop om ’n kind se basiese behoeftes en reaksies te verstaan en daarop te reageer. Dié program is op die volgende uitgangspunte gegrond: Elke mens word met die behoefte gebore om in een of ander verhouding te staan met die persoon wat na hulle omsien. Dat meeste ouers wil net die beste vir hul kinders hê en dat kinders se behoeftes nie altyd raakgesien of verstaan word nie, maar as ouers besef waarna om op te let, kan hulle hul kinders beter verstaan.
Sekuriteitsirkel-ouerskap gaan van die veronderstelling af uit dat die gehalte van die ouer-kind-verhouding gedrag vorm en ’n langdurige effek op ’n kind se selfvertroue, vriendskappe, die manier hoe hulle leer en optree, hul bevoegdheid, hoe hul stres hanteer en die kind se algehele geluk het.
Kenners meen verder dat die soort ouers wat ’n pa en ma gehad het ook die manier hoe hulle hul kinders hanteer, beïnvloed. Om bewus te wees van jou sterk en swak punte wanneer dit by ouerskap kom, kan jou help om doelbewus keuses te maak om ’n hegte verhouding met jou kind te bou.