Die 28ste Veritas Toekenningsfunksie is onlangs gehou
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts en verskaf
Dié geleentheid word as die Oscars van die Suid-Afrikaanse wynbedryf gereken. Die Veritas Vertex Toekenning vir die algehele kampioenwyn uit’n rekord 1 677 inskrywings vir vanjaar is deur die Pongrácz Blanc de Blanc MCC verower. Die handgemaakte glastrofee is aan keldermeester Elunda Basson en haar Pongrácz-span oorhandig.
ʼn Rekord aantal medaljes (1 499) is ook vanjaar toegeken, waar die Distell Groep die voortou geneem het met vier Dubbelgoue en 17 Goue medaljes.
Spier Wyne het vir die tweede agtereenvolgende jaar die tweede meeste medaljes ingeoes, met drie Dubbelgoud en 11 Goud, gevolg deur KWV (drie Dubbelgoud en 10 Goud), Orange River Cellars (drie Dubbelgoud), Cederberg (twee Dubbelgoud en vier Goud), en Darling Cellars (twee Dubbelgoud en drie Goud).
In die gefortifiseerde wyn-kategorie was Nuy aan die voorpunt met vier Dubbelgoud en twee Goud. Boplaas was tweede met drie Dubbelgoud en een Goud, terwyl Calitzdorp Kelder en De Krans gesamentlik derde was met een Dubbelgoud en een Goud elk.
Distell het ook geseëvier in die brandewyn-kategorie met vyf Dubbelgoud en ses Goue medaljes. KWV was kort op hulle hakke, ook met vyf Dubbelgoud en drie Goud. Nuy het verras met Dubbelgoud vir sy debuut-inskrywing potketelbrandewyn.
Die Beste Presteerder in die afdeling vir tien wyne of minder was Orange River Cellars, terwyl Distell ook die klas vir meer as tien inskrywings gewen het.
Vyf uitblinker-persoonlikhede van die wynbedryf – Albert Eksteen, Pierre Marais, Melvyn Minnaar, Christine Rudman en Martin van der Merwe – het Lewende Legende-ererolle ontvang ter erkenning van hul onskatbare bydraes tot die Suid-Afrikaanse wyn- en brandewyn-bedrywe. Van der Merwe is ook die eerste ontvanger van die Legende- toekenning wat homself beide plaaslik en in die buiteland onderskei het.
Altesaam 50 Dubbelgoue en 219 Goue medaljes is toegeken.
Distell het die voortou geneem met vier Dubbelgoud vir twee MCC wyne, Desiderius 2011 en Pongrácz Blanc de Blanc N/V, asook vir die Fleur de Cap Lazlo 2015 en Nederburg Private Bin Edelkeur 2012.
Spier het drie Dubbelgoud verower vir Spier 21 Gables Chenin Blanc 2013, Spier Creative Block 5 Cabernet Sauvignon/Merlot/Cabernet Franc/Malbec/Petit Verdot 2013 en Naledi Cabernet Sauvignon 2008.
KWV het drie Dubbelgoud gekry vir KWV The Mentors Canvas 2014, KWV The Mentors Petit Verdot 2016 en KWV The Mentors Sauvignon Blanc 2014.
Orange River Cellars het uitgeblink met drie Dubbelgoud vir drie witwyne: Orange River Cellars Colombard 2018, Orange River Cellars Sauvignon Blanc 2018 en Orange River Cellars Straw Wine 2017.
Cederberg en Darling Cellars het elk twee Dubbelgoud gewen en vier en drie Goud onderskeidelik.
Altesaam 10 produsente het elk ook een Dubbelgoud gewen.
Altesaam 12 Dubbelgoue en vyf Goue medaljes is aan die voorste versterkte wyne toegeken. Die wenners van die meeste hiervan was Nuy en Boplaas wat Dubbelgoud gekry het vir Nuy Wit Muskadel 2006 en 2012, Nuy Red Muscadel 1993 en 2015, Boplaas Cape Tawny Vintner’s Reserve, Boplaas Cape Vintage Reserve en Boplaas Heritage Collection Muscadel 2014. Vyf produsente het elk een Dubbelgoud gewen.
Suid-Afrika se voorste brandewynprodusente het 10 Dubbelgoue en nege Goue medaljes gebuit. Distell het vyf Dubbelgoud gewen vir sy Richelieu Vintage Brandy 10 Years, Van Ryn’s Viceroy Potstill Brandy 10 Years, Van Ryn’s Single Potstill Brandy 12 Years, Van Ryn’s Single Potstill Brandy 15 Years en Van Ryn’s Single Potstill Brandy 20 Years. KWV het ook vyf Dubbelgoud ontvang vir sy KWV 10 Year Barrel Select Potstill Brandy, KWV 12 Year Barrel Select Potstill Brandy, KWV 15 Year Alambic Blend Potstill Brandy, KWV XO 20 Year Potstill Brandy en KWV Imoya Fine Potstill Brandy. Nuy het Dubbelgoud vir sy Copper Potstilled Brandewyn gewen.
ʼn Gesaghebbende paneel, bestaande uit ses internasionale en 100 plaaslike spesialiste, het die kandidate vir Veritas-roem gedurende ʼn marathon blindeproe van vyf dae beoordeel.
Veritas en Checkers se vrugtevolle samewerking oor die afgelope 15 jaar, het ʼn hupstoot gekry met die aankondiging tydens die Veritas Toekennings se galadinee, naamlik dat sommige Veritas Dubbelgoud- en Goud-wenners voortaan in spesiale afdelings van ʼn handjievol uitgesoekte Checkers-winkels se wynafdelings uitgestal sal word, sodat verbruikers die wenwyne maklik kan uitken.
Proe die wenners
Wynliefhebbers het die geleentheid om die top presteerder Dubbelgoue en Goue medalje-wenwyne en brandewyne op die proef te stel by landwye proeë geborg deur Deloitte. Die Veritas vertoonvenster-proeë word aangebied in Johannesburg (23 Oktober), Durban (7 November) en Port Elizabeth (14 November). In Knysna word ʼn aansit-proe en ʼn kos- en wyn aand op 15 en 16 November gehou. Kaartjies by Computicket.