Opgaardery (of “hoarding”) het heelwat negatiewe gevolge, emosioneel sowel as in die praktiese sin. Sulke mense se lewensruimte word drasties ingeperk en hulle word sosiaal geïsoleer. Nog ’n gevolg is geldelike probleme en higiëne.
JB Roux
“Wanneer ’n vertrek ’n warboel begin raak, is die oorsaak gewoonlik nie fisiek nie,” sê Marie Kondo in haar boek The Life-changing Magic of Tidying.
“’n Deurmekaar huis of kamer lei jou aandag van dieperliggende probleme weg. As jy nie ontspanne kan voel in ’n skoon en netjiese vertrek nie, is dit tyd om na die oorsaak van jou spanning te kyk. As jou woonruimte skoon en netjies is, het jy geen keuse as om oor jou “innerlike self” na te dink nie. Jy sal te doen kry met die dieperliggende probleme waarvan jy probeer het om te vlug deur in die eerste plek soveel rommel op te gaar en jy sal gedwing word om oplossings vir dié probleme te vind.
“Die oomblik wanneer jy begin opruim, sal dit voel asof jy jou lewe self in orde probeer kry – jou lewe sal inderdaad verander. Dit is hoekom ’n mens nie gras onder jou voete moet laat groei nadat jy besluit om jou ruimte op te ruim nie. Om skoon te maak, sal jou die geleentheid gee om die ware oorsake van jou probleme te hanteer. Om op te ruim is ’n middel tot ’n doel; dis ’n ‘reis’ en nie ’n bestemming nie. Die ware doelwit is die lewenstyl wat jy wil vestig nadat alles opgeruim en skoongemaak is.”
Dis nou of nooit: Jy het besluit om vir eens en altyd orde in jou lewensruimte te skep. Maar hoe gaan ’n mens te werk? Dalk is dit beter om so ’n groot taak stukkie vir stukkie aan te pak en elke dag net ’n uur of twee aan die opruimwerk af te staan …
Marie Kondo stem nie saam nie, al beveel sommige kenners aan dat ’n mens juis dié metode moet volg.
“Jy dink dalk jy het alles netjies op hul plek gesit, maar ’n paar dae later lyk jou woonplek maar weer soos voorheen. Dít is gewoonlik die gevolg wanneer ’n mens jou lewensruimte stuksgewys probeer skoonmaak. Daar is net een manier om nie in dié spiraal te beland nie en dit is om alles gelyk en so gou moontlik op te ruim.”
Maar hoe kan so ’n skoonmaakaksie iemand help om ’n gesonde lewensuitkyk te hê?
“Wanneer jy jou lewensruimte op een slag opruim, herskep jy die ruimte om jou. Dié verandering is so drasties dat dit vir iemand voel asof hy of sy in ’n heel nuwe wêreld leef. Dit het ’n groot invloed op hoe jy dink en lei tot die voorneme om nooit weer toe te laat dat chaos en rommel jou lewe oorneem nie. Die geheim is dat die verandering so skielik moet plaasvind dat jy ’n heel nuwe lewensuitkyk sal hê. Om die warboel stelselmatig op te ruim, sal nooit dieselfde impak hê nie.”
*The Life-changing Magic of Tidying; versprei deur Penguin Random House, SA