’n Vrou vertel in ons 28 November-uitgawe hoe sy smag na ’n kind van haar eie. Lees hier wat ’n sielkundige oor onvrugbaarheid sê
Carla van der Spuy
Sharon Covington, direkteur van ’n sielkundige ondersteuningsnetwerk vir onvrugbaarheid, lewer kommentaar op die kwessie:
’n Traumatiese proses
“Onvrugbaarheid is uiters traumaties en stresvol. Dit het ’n impak op hoe jy jouself, jou lewensmaat, jou huwelik of verhouding sien en beïnvloed selfs jou verhoudings met ander mense.
“Die behandeling van onvrugbaarheid het siklusse van hoop en wanhoop tot gevolg. Dit verander die paartjie se emosionele lewe in ’n roller coaster-rit. Depressie, woede, angstigheid, irritasie, frustrasie, onvermoë en hartseer is natuurlike reaksies. Hormone kan ’n groot impak hê op emosies en dis net logies dat behandeling wat met hormoonvlakke peuter, hierdie emosies die hoogte sal laat inskiet.
Die impak op jou verhouding
“Wanneer maande verbygaan sonder enige sukses sal die spanning noodwendig opbou. Vir die paartjie is die tweede jaar van behandeling die moeilikste.
“Dit gebeur soms dat die een party die ander in die stilligheid verwyt of dat die onvrugbare party met geweldige skuldgevoelens worstel. Vroue wat onvrugbaar is, het dikwels dieselfde soort kliniese depressie as wat pasiënte kry wat aan ‘n terminale siekte ly.
“As gevolg van persoonlikheidsverskille het paartjies dikwels verskillende benaderings tot die behandeling, wat tot verdere onmin kan lei. Een van die twee is dalk gretig om al die opsies te ondersoek en uit te probeer, terwyl die ander een dalk nie kans sien vir alles nie. Aangesien die behandelings grotendeels ’n fisieke impak op die vrou het, kan die oneweredige emosionele en fisieke las wat sy moet dra baie stremming op ’n verhouding plaas.
“Dit is baie belangrik dat ’n paartjie wat hulself in so ’n situasie bevind, by ’n ondersteuningsgroep aansluit of ’n sielkundige raadpleeg.”