Wat is die impak van daardie eerste verhouding op die ander wat volg? Shanda Luyt skryf daaroor in ons 26 Junie-uitgawe.
Shanda Luyt
Ongelukkig, ná iemand seergekry het in ’n verhouding, gaan sy of hy nooit weer in ’n verhouding sonder vrees nie, sê Leandie Buyss, ’n kliniese seksuoloog en verhoudingsterapeut van Port Elizabeth.
“Sy sal altyd wonder: ‘Gaan hy my verkul?’ ‘Gaan hy my los vir iemand anders?’” Leandie beskryf dit as ’n soort trauma wat die persoon beleef. “Ons almal beleef trauma op een of andere tyd in ons lewe. Maak nie saak wanneer jy die verlies ervaar nie – trauma word die ergste ervaar wanneer jy in ’n verhouding is.”
Dr Malcolm Brynin, navorser van die Institute for Social and Economic Research by die University of Essex vertel in die boek Changing Relationships hy het bevind dat die euforie van eerste liefde ’n mens se toekomstige verhoudings kan skaad. Volgens hom stel intense eerste liefdes onrealistiese standaarde waarvolgens mense dan hul toekomstige verhoudings meet. “Dan raak dit onafwendbaar dat jou toekomstige, meer volwasse verhoudings vir jou vervelig en teleurstellend sal voel,” skryf hy.
Die impak van eerste liefde op daaropvolgende verhoudings ís beduidend, bevestig Jennifer Beer van die University of California in Berkeley, Amerika ná navorsing oor die eerste liefdes van 303 studente. Jennifer onderskei egter tussen ’n positiewe en negatiewe impak en sê diegene wat hulle eerste liefde as positief ervaar het, is meer geneig om later veiliger en meer stabiel in hul romantiese verhoudings te voel, terwyl diegene met negatiewe eerste ervarings meer probleme in latere verhoudings ervaar het.
“Natuurlik breek die meeste eerste verhoudings op, maar selfs al het die verhouding geëindig, kan jy dit steeds as goed of sleg onthou,” het sy in ’n persverklaring op die universiteit se webblad verduidelik. As jy byvoorbeeld dus in ’n baie stormagtige eerste verhouding was, kan jy later voel alle mans is onbetroubaar.”
Diegene met herinneringe van positiewe emosies en uitkomste van hul eerste verhouding was meer geneig om ’n positiewe beeld van hulself en ander in romantiese verhoudings te hê, terwyl diegene met meer negatiewe emosies en uitkomste meer geneig was om hulself of hul maat of albei in ’n negatiewe lig te sien in ’n verhouding.”