Vra jy vir Leana Niemand wat sy vir ’n lewe doen, antwoord sy sonder skroom dat sy fietsry. Maar nie sommer net fietsry oor naweke nie – meer as 130 000 km oor vyf kontinente en daar is geen einde in die vooruitsig nie, skryf Maryke Roberts in ons 3 Junie-uitgawe. Lees hier meer oor haar
Foto’s JAC KRITZINGER
Agt vrae aan Kapenaar Leana Niemand wat al die afgelope nege jaar die wêreld op haar fiets verken:
1. Is jy nie bang om vrou-alleen te ry nie?
Nee, mense is baie gaaf en ek dink dis juis oor ek alleen ry, wat mense besorg is oor my. Ek is ook as vrou versigtig en as ek nie gemaklik voel nie, ry ek verder.
2. Visums kelder seker gereeld jou planne?
Nee, visums is glad nie so ’n probleem soos ‘n mens dink nie – die meeste lande reik visums by die grensposte uit.
3. In watter lande het jy al die langste vertoef en hoekom?
Indië, Mexiko en Amerika, bloot omdat jy vir ses maande met een visum kan kuier. Ek probeer om so min as moontlik te vlieg en eerder roetes te vind wat my op een kontinent laat aanhou ry.
4. Hoeveel eilande het jy al platgery?
Ek het nog nie baie eilande verken nie, bloot oor die duur vliegkaartjies. Jy vlieg ten duurste, ry vir ’n paar weke die eiland plat en dan moet jy weer vlieg. As ek op ’n stuk grond is, bly ek so lank ek kan.
5. Kan jy drie plekke uitsonder wat vir jou hoogtepunte was?
Nee, want elke dag is ’n hoogtepunt. Omdat ek so min moontlik nalees, verwag of ten doel het, laat ek toe dat die lewe net gebeur.
6. Ry jy altyd alleen?
Meestal. Ek en ’n ander Kapenaar, Ernest Markwood, het mekaar vir ’n hele paar jaar so raakgery, maar mekaar nou drie jaar laas gesien. My suster het ook al drie maande kom saamry, maar andersins ry ek alleen.
7. Jy ry seker ’n groot noodhulpsakkie saam?
Nee, so met handgebare en verduidelikings kom ek by die meeste apteke reg as ek iets nodig het. Dis net ekstra gewig wat ek moet saamry.
8. Is jy nie bang jy raak verveeld as jy dieselfde lande besoek nie?
Nee, ek ry ander roetes en buitendien is elke dag uniek, ongeag of die pad bekend is.