Marion en Brian Smith van Elgin Ridge besit die enigste organies-gesertifiseerde plaas in Elgin en het vandeesweek gaste by Aubergine Restaurant in Kaapstad onthaal om hul Sauvignon Blancs sedert hul eerste vrystelling in 2009, tot die 2015-oesjaar, wat tans in bottel is, te proe.
Die Smiths het in verskeie lande gesoek na wyneiendom, nadat hulle hul inligtingstegnologiemaatskappy in Londen verkoop het. Suid-Afrika en spesifiek die Elgin-vallei het hul harte gewen. In 2007 koop hulle die kaal stuk grond vandag bekend as Elgin Ridge. Die plaas se wyn-etikette weerspieël die hoogte van die wingerd – 282 meter bo seespieël – en die wyn is tipies van die terroir en Atlantiese briese, wat die druiwe deur die dag afkoel.
Die Elgin Ridge wynportefeulje bestaan tans uit drie wyne – die Elgin Ridge 282 Sauvignon Blanc 2015, die Elgin Ridge Pinot Noir 2013, en die MV 2011 MCC. Die MV, ‘n eerbetoon aan Marion en haar harde werk in die wingerd wat Marion’s Vineyard gedoop is, spreek van ‘n eiesoortige individualiteit. Die 2011-oesjaar is vir twee jaar in ou Franse vate verouder en gevolg deur drie jaar bottel-veroudering met geen dosage.
“Ons filosofie van gesertifiseerde organiese wyn wat natuurlik gemaak word begin in die wingerd en eindig in die bottel,” sê Brian wat verantwoordelik is vir die wyn saam met nuut aangestelde wynmaker Kosie van der Merwe. “Ons maak klein volumes wyn van gesertifiseerde organiese druiwe, die perfekte vrug. Elke bottel met die Elgin Ridge-etiket verteenwoordig ons toewyding tot kwaliteit.”
Brian vertel dat hulle heelwat later as hul bure oes en dat hulle net van natuurlike gisting gebruik maak. Die Sauvignon Blancs word ook nege maande in vlekvryestaaltenks gehou, voor dit ses maande in die bottel deurbring. “Die wyne word gemiddeld 18 maande ná oes vrygestel – anders as meeste ander witwyne wat baie gou ná die oes op die mark gestoot word,” het hy vertel. Hy het bygevoeg dat hulle Sauvignon Blancs maak vir mense wat nie van Sauvignon Blanc hou nie, omdat hul smaak só uniek is.
Elgin Ridge, ‘n 20 hektaar plaas waarvan sewe hektaar met wyndruiwe geplant is, is organies gesertifiseer deur ECOCERT en die wingerd is reeds vir sewe jaar nie met enige chemiese stowwe gespuit nie. Maar hulle langtermyndoelwit was nie slegs organiese sertifikasie nie, maar ook om biodinamies te funksioneer en hierdie droom sal vanjaar realiseer.
Die MV 2011 MCC’n eerbetoon aan Marion en haar harde werk in die wingerd.
Die Britse Konsul-Generaal, Ed Roman, saam met Brian Smith, mede-eienaar van Elgin Ridge.
Emy Matthews, bemarking en verkope, van Elgin Ridge en Kosie van der Merwe, wynmaker by Elgin Ridge.
Marion Smith, mede-eienaar van Elgin Ridge en sjef en eienaar van Aubergine Restaurant, Harald Bresselschmidt.
Die Elgin Ridge Pinot Noir 2013.
Die Sauvignon Blanc is onder skroefdop.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.