Testikelkanker is wel ’n rare kanker – dit maak maar 1% van kankers by mans uit – maar dis ook die algemeenste kanker by mans tussen 15 en 39 jaar oud.
CHRISTA SWANEPOEL
Die goeie nuus is dat die kans op genesings meer as 90% is as dit vroegtydig opgespoor word. Die fietsryer Lance Armstrong is ’n lewende bewys dat selfs gevorderde testikelkanker genees kan word.
Wat is testikelkanker?
Dit is wanneer selle in een of albei tes tikels kwaadaardig word. Dit is nie aansteeklik nie, maar dit kan wel na ander organe versprei.
Diagnose
As jy van dié simptome ervaar, is dit nog lank nie te sê jy het testikelkanker nie. Gaan egter dokter toe. Hy sal jou vir ’n sonar en bloedtoetse stuur. As die sonar nie kanker kan uitsluit nie, kan die testikel verwyder word. Dit beïnvloed nie ereksie of die moontlikheid om kinders te hê nie. Doen maandeliks ’n selfondersoek terwyl jy ’n warm stort neem. Let op enige verandering en spreek dadelik jou dokter as jy onseker is.
Risikofaktore
Die presiese oorsaak van testikelkanker is nie bekend nie. Daar is wel ’n paar risikofaktore, maar selfs al kom hulle voor, is dit nie te sê jy gaan dit kry nie. Jy kan ook geen risikofaktore hê nie en dit steeds kry.
1 As ’n testikel nie afgesak het nie Die testikels ontwikkel voor geboorte in die buik van die fetus en beweeg dan voor die geboorte af na die skrotum. Na raming gebeur dit by ongeveer 3% van seuns dat die testikels nie voor geboorte tot in die skrotum afsak nie. Soms bly dit in die buik en soms begin dit afsak, maar sit dan in die lies vas. Dit word ook kriptorgidisme genoem. Mans met wie dit gebeur het, se kanse is aansienlik groter om testikelkanker te kry as mans wat nie die probleem het nie. Die risiko is ook groter vir mans by wie die testikel nog in die buik is as mans wie s’n al begin afbeweeg het. Die kanker sal dan ook in die testikel begin wat nie afbeweeg het nie.
2 ’n Abnormale ontwikkeling van testikels of ander organe Mans wat met abnormaliteite van die testikels, penis en/of uretra of niere of met ’n liesbreuk gebore word, het ’n verhoogde risiko.
3 ’n Geskiedenis van testikelkanker Mans wat van testikelkanker in een van die testikels genees is, het ’n verhoogde risiko (2- 4%) om kanker in die ander testikel te kry.
4 ’n Familiegeskiedenis van testikelkanker As ’n man die siekte het, is daar ’n geringe verhoogde risiko dat sy broers en seuns dit ook sal kry. Ongeveer 10% van testikelkankers is waarskynlik geneties. Dis egter nie die gene wat dit veroorsaak nie, maar dit maak die man meer vatbaar.
5 MIV Volgens onlangse navorsing is daar bewyse dat mans wat met MIV besmet is, ’n verhoogde risiko het om testikelkanker te kry. Dis ook waar vir mans met vigs. Geen ander infeksie verhoog die risiko vir testikelkanker nie.
6 Ras Wit mans se kans om testikelkanker te kry, is vyf keer groter as ander mans s’n, maar die rede is onbekend. Een uit 348 wit mans kry dié kanker, een uit 1 035 Indiërmans, een uit 7 728 swart mans en een uit 2 041 bruin mans.
7 Ouderdom Gemiddeld nege uit tien gevalle van testikelkanker kom by mans tussen 20 en 54 voor. Dit kan egter op enige ouderdom voorkom, insluitende babas en ouer mans.
8 Vrugbaarheidsprobleme Studies het bevestig mans met vrugbaarheidsprobleme het ’n verhoogde risiko vir testikelkanker. Die probleme wat geïdentifiseer is, is lae semenkonsentrasie, sperms wat nie normaal rondbeweeg nie en ’n hoë aantal abnormale sperms.
9 Beroep Sekere beroepe soos myners, olie- en gaswerkers, leerwerkers, kos- en drankwerkers en mans wat met gifstowwe werk, het ’n groter risiko.
10 ’n Familiegeskiedenis van borskanker en kwaadaardige melanoom kan ook jou kanse verhoog om testikelkanker te kry.
11 Liggaamsgrootte Sommige studies toon die risiko is effens groter by lang mans, terwyl ander studies weer geen verband gekry het nie.
BELANGRIK
’n Vasektomie verhoog nie die kans vir testikelkanker nie.