Vyf vrae vir die akteurpaartjie, Waldemar Schultz en Ira Blanckenberg:
Wat is die grootste les wat julle al bymekaar geleer het?
Waldi: Sy en my dogter is my grootste onderwysers. Ek leer elke dag iets by hulle. Ek word voortdurend gebrei in ’n ander vorm en ek groei uit my verhoudings met hulle twee.
Ira: Om te lag. So lekker, onvoorwaardelik te lag.
Wat is die mooiste boek wat jy al gelees het?
Waldi: Illusions: The Adventures of a Reluctant Messiah van Richard Bach. Dis die boek wat die grootste impak op die manier hoe ek dink, gemaak het. Dis die outeur wat Jonathan Livingstone Seagull geskryf het.
Ira: My Breyren Breytenbach-digbundels, Illusions, The Book thief, The curious incident of the dog in the night time …Oe, ek kan nog lank aangaan, hoe baie mag ek gee?
As jy nie akteur geword het nie, watter ander beroep sou jy kon geniet?
Waldi: Beeldende kunste. Net nie verf nie – ek en verf is nie maatjies nie. Maar goeters maak. Maskers, beelde … so iets kreatief.
Ira: Ek is in my siel ‘n drama-afrigter. Dit is en bly my eerste liefde, om my kennis oor te dra en om studente te help om hul eie hoogtes te bereik. Tweedens is ek ’n akteur, die ondersoek en krap deur my siel vir elke rol bring soveel groei en ontdekking.
Wat lê op jou bedkassie?
Waldi: Baie gadgets, flashdrives, ’n herlaaibare flits, ’n klein hopie boeke waarvan meeste seker toneelstukke is, ’n leë koffiebeker met sjokoladepapiertjies in, my selfoon of tablet, oorfone en my e-roker, al gebruik ek dit baie min. Ek is ’n messypersoon.
Ira: ’n Rotskristallampie van die Himalaja en foto’s.
Waarin sien ons julle volgende saam op die verhoog?
Die poësiestuk, Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte, onder leiding van Juanita Swanepoel. Die stuk is ’n uittreksel uit Fanie Olivier se samestellingsbundel, Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. Ons het daarmee debuteer by Tuin van Digters op Wellington in September en gaan so bietjie aan die produksie skaaf en byvoeg, voor ons in alle erns gaan begin repeteer vir US Woordfees 2017.