Sewe vrae aan Susanne en Pietie Beyers, ma en seun, wat boonop albei akteurs i
1. Wat is die eienskap wat jou die meeste in die ander een beïndruk?
Susanne oor haar seun: Sy vrolikheid en sy sin vir humor. Hy het ’n geweldige ruimhartige gees. Hy blaas lewe in enige situasie.
Pietie oor sy ma: Haar emosionele vrygewigheid en ondersteuning en beslis ook haar humorsin. Sy het ons ook geleer dat die nou, die beste is wat die lewe op enige gegewe tyd gaan wees. Sy sien die kleur, spontaneïteit en lewe in elke situasie.
2. Pietie, wat is die beste raad wat jy by jou ma gekry het?
“Love thy crooked neighbour with thy crooked heart.” Ook dat jy niks persoonlik moet opneem nie en dat die virtue soms in imperfection lê.
3. Het julle twee al saam in ’n produksie gespeel?
Ja, ons was saam in die kortfliek Onder die tafel, wat by die Silwerskermfees vertoon is. Susanne: Dit het glad nie gevoel of ek saam met my seun speel nie; hy was vir my net soos enige ander jong akteur. Pietie: Ons handhaaf goeie grense in ons professionele lewens. Wanneer ons werk, is dit werk.
4. Waarvan droom jy vir die toekoms?
Susanne: Ek wil net besig bly en in die kreatiewe wêreld betrokke wees. Ek geniet die klasgee, toneelspeel en ek skryf so af en toe. Ek het juis onlangs my eerste kortverhaal in ’n tydskrif gepubliseer. Nadat Pietie uit die huis is, het ek so ’n week lank getreur en toe Die leë nes geskryf.
Pietie: Ek stem saam oor die eerste gedeelte van haar antwoord. Ek wil deel van lekker projekte wees en wyd vlieg.
5. Wat was vir jou ’n groot hoogtepunt?
Pietie: Om vir myself te leer lag.
Susanne: Om wanneer die mat onder my uitgeruk word, op te staan. Iemand het eenmaal gesê wanneer koffiebone gerooster word, kan jy óf die bitter drankie wees óf die reuk wat die hele huis vul. Ek kies altyd om die reuk te wees wat die huis met daardie hemelse reuk vul.
6. Wat is op jou bedkassie?
Pietie: ’n Foto van my meisie, Anneke, ’n foto van ons ou golden retriever Emma, ’n kers en ’n terrarium met plante in, waarvan die presiese een op Anneke se vensterbank in die Kaap staan.
Susanne: Stapels boeke, my bril, laventelolie, handeroom en my ouma se Bybel.
7. Hoe voel julle oor privaatheid en aanhangers wat jou sommer trompop loop?
Pietie: Ek het nog nie baie daarmee te doen gehad nie, want ek het nog net positiewe, simpatieke karakters gespeel. Ek gee nie om as mense kom blad skud of gesels nie, solank dit beleefd en vriendelik is!
Susanne: Ek het al rolle gespeel waar ek aan drank of pille verslaaf was, ’n lesbiese moordenaar of die heks in die verhaal was en mense sukkel soms om my as mens van dié rolle te distansieer. Ek stem saam met Pietie, dis altyd lekker as mense vertel hoe hulle jou spel geniet, maar ek is al geneig om ’n sluier om myself te trek as ek alleen is.