Ses vrae aan akteur Stiaan Smith, draaiboekskrywer, vervaardiger en hoofspeler van Sy klink soos Lente, wat op 30 September landwyd begin draai:
As jy nie akteur en draaiboekskrywer geword het nie, watter ander beroep sou jy kon volg?
Ek sou dalk wou klasgee; iets waar ek nie so kreatief hoe te wees nie. Dis vir my soms nogal ontsaglik stresvol om kreatief te wees.
Watter kunstenaars bewonder jy?
Die skrywer Aaron Sorkin en Ricky Gervais. Ek kyk op na die kunstenaars wat die beroep kan beoefen sonder om hulself in die proses te verloor; mense wat geniet wat hulle doen.
Na wie in die bedryf sal jy gaan vir raad?
Ons is ’n klein groepie vriende na wie ek sal gaan – ek vertrou hul oordeel en ons kan lekker gedagtes en idees ruil.
Dink jy daar is plek vir Afrikaanse flieks wat nie die tradisionele resep van romanse volg nie, of dink jy TV-reekse vul daardie gaping?
Flieks soos Dis ek, Anna, Sink en Johnny is nie dood nie, het nou nuwe genres begin ontgin en Suid-Afrikaanse gehore het hul ondersteuning hiervoor begin wys. Mense is reg vir daardie genres. Hulle ondersteun lankal daardie genres in ander tale. Die uitdaging is net om dit reg te doen. Daar is plek vir suksesvolle rolprente en ons het brawe rolprentmakers.
Wat dink jy is die stand van Afrikaanse rolprente?
Ons storievertellers is nie aan die loket gekoppel nie. Ons is op ’n ontsaglike opwindende plek met goeie temas en onderwerpe. Ons is egter nog ’n ontwikkelende bedryf en ons gaan nog slegte flieks maak, want ons moet leer en groei.
Wat is jou gevoel oor die Silwerskermfees?
Ons is bevoorreg om vir kykNET te hê. Die fees bied ’n platform vir jong fliekmakers en ook die geleentheid om met ander mense in die bedryf te gesels.