Sonja Kruse is die skrywer van The uBuntu Girl en gereelde gasspreker by geleenthede regoor die land. Sy het ook al haar storie in Mexiko, Duitsland en Italië gaan vertel en onderneem lees- en skryfwerkswinkels saam met FunDza Literacy Trust (www.fundza.co.za).
Lees hier meer oor haar.
Tien interessante feite oor haar reis
- Haar rugsak het twee paar skoene, tien klerestukke, basiese toiletbenodigdhede, kamera, notaboek, sarong, teeboomolie, watersuiweringstablette en warm baadjie ingehad.
- Toe Sonja terugkom van haar uBuntu-reis, het sy 5 kg meer geweeg as voor sy begin het.
- Sy het 114 verskillende stede, dorpe en townships besoek.
- 150 families het ’n vreemdeling in hul huise ingeneem.
- Sy het gasvryheid by 16 verskillende kulture in Suid-Afrika ervaar.
- Die eerste reis was 351 dae lank en die tweede een 210 en is in drie dele afgelê.
- Sy het “net” 2 200 km gestap, maar altesaam 13 685 km gereis.
- Sy het 14 000 foto’s op haar reis geneem.
- Die mooiste woorde wat sy op haar reis gehoor het: “Niemand sal jou op hierdie pad pla nie.”
- Wyse woorde wat sy van ’n onverwagse ontmoeting gehoor het: ’n Jong man op Kimberley: “You are in the dark room of the soul. You cannot see the picture, as it is still developing.”
Lees meer oor haar reis en kyk haar foto’s by www.theubuntugirl.co.za
Tien vrae aan Sonja Kruse, of bekend as uBuntu Girl, wat Suid-Afrika deurkruis het met net die hoop vir en geloof in Suid-Afrikaners, as haar metgesel:
1. Wat was jou grootste vrees voor die tyd en wat was op die ou einde die grootste bedreiging?
Ek was bang dat die beplande dag van my vertrek sou aanbreek en ek nie moed sou hê om te gaan nie. As ek te veel sou analiseer, sou ek nooit die reis aangepak het nie. Ek was ook bang vir verwerping – dat mense my nie sou aanvaar nie. Ek het ’n paar noue ontkomings gehad op my reis, maar het uit elkeen geleer.
2. Wat was die snaaksste kos wat jy geniet het?
Lewer in ’n Thaisous. Ek eet glad nie lewer nie, maar het besef hierdie gesin deel hul koningsmaal met my en ek moes vasbyt! Ek moes dit eet met dieselfde liefde waarmee dit voorberei is.
3. Wat was die interessantste plek waar jy geslaap het?
In ’n grot buite Kimberley.
4. Wat het jy oor jouself geleer?
Dat ek kan luister – ek is nie altyd ’n goeie luisteraar nie – geduldig kan wees en dat ek worthy is.
5. Wat het jou reis oor Suid-Afrikaners geleer?
Sonder dat ons ander Suid-Afrikaners beleef en ervaar, is ons armer mense. Met ’n oop hart en oop geheue, sal deure vir jou oopgaan.
6. Het jy ’n plan B gehad sou die reis nie materialiseer nie?
My hele lewe is ’n Plan B! Ek hou nie van konvensioneel nie en hou daarvan om meer oor die lewe te leer, deur te leef.
7. Wat maak jou hartseer vandag – ná alles wat jy gesien het en waar ons land vandag soveel knelpunte oor rassisme en haat het?
Hoe los ons van mekaar leef; hoe ons van mekaar praat. Daardie totale disconnect van ons medelandsburgers.
8. Wie inspireer jou?
Suid-Afrikaanse gogo’s.
9. As jy die reis weer kon beplan, sou jy dit anders aangepak het?
Ek sou langer op die pad gebly het. Maar my kop was só vol stories, ek moes iewers afklim om te begin skryf.
10. Hoe sal jy jouself beskryf?
As ’n natuurlike storie-gaan-haler.