Vir die vrou wat van plan is om die sewe hoogste bergpieke in die wêreld baas te raak – en klaar drie kafgedraf het – is tou opgooi nie deel van haar woordeskat nie. Luisa van der Linde gesels met die bergklimmer Saray Khumalo in ons 22 April-uitgawe. Saray gesels verder.
SARAY VERTEL:
BESTE OOMBLIKKE
“Die beste oomblik is wanneer jy daar bo op die piek sit en terugkyk na waar jy vandaan kom. Jy gaan terug na daai gevoel waar die berg voor jou lê en alles hopeloos lyk en daardie gevoel verdwyn in ‘n oogwink. Dis amper soos om ‘n kind te kry en jy vergeet dadelik van die pyn as jy hom of haar sien. Bo-op die piek is alles wit, mooi en pragtig en jy ervaar ‘n triomfantlike gevoel. Daardie gevoel dat jy teen alle verwagting geslaag het, bly vir ewig by jou.”
SLEGSTE OOMBLIKKE
“Ek het eenmaal vergeet om my sneeubril op te sit. Binne oomblikke is ek deur die sneeu verblind. Ek kon net ‘n paar sentimeter voor my sien en moes voel-voel loop. Ek het ook met die eerste klim nie besef hoe belangrik dit is om water te drink nie en het erge lugdruksiekte gehad.”
EK HET GELEER OOR DIE LEWE …
Bergklim is ‘n solosport. Jy moet intens konsentreer. Jou perspektief verander en groei. ‘n Mens begin later baie dinge in die lewe bevraagteken. As ek vir twee maande met ‘n rugsak kan loop en net dit wat ek nodig het, kan dra, het ek regtig al my aardse besittings so nodig?
LIEFDE VIR WELSYNWERK
Ek het by my grootouers grootgeword. My ouma het ‘n reusetuin gehad. Weduwees en arm mense kon hier kom groente kry. ‘n Sosiale bewustheid is van vroeg af by ons ingeprent. Die Kilimandjaro-ervaring het my weer laat besef dat die lewe oor meer as my eie familie gaan. Dit gaan ook oor die gemeenskap rondom my. Dit is nie iemand anders se werk om vir die breë gemeenskap te sorg nie. Dit is my werk, soveel soos die naaste mens s’n. Ons wag dikwels vir ander om die eerste tree te gee. Jy hoef nie ryk te wees om ander mense te kan help nie. My ouma het die gesegde gehad. “Hoe meer jy uit die pot skep, hoe meer sal God terugskep.”
Besoek www.saraykhumalo.org