Rachelle Greeff se nuwe kortverhaalbundel is op die rak. Riette Rust het haar uitgevra. Lees haar antwoorde in ons 8 April-uitgawe en lees hier verder
Sy is ’n bekroonde kortverhaalskrywer en dramaturg, maar Rachelle Greeff skryf ook romans. Daarby het sy twee kinderprenteboeke en twee bundels rubrieke gepubliseer. Nou is haar nuwe kortverhaalbundel, Die Naaimasjien en ander stories, op die rak.
Die gewilde en suksesvolle verhoogstuk Die Naaimasjien het uit jou kortverhaal “Naaimasjien” ontstaan. ’n Verwerkte weergawe verskyn in hierdie bundel. Het die eerstepersoonsvertelling die verwerking in ’n drama vergemaklik?
Absoluut.
Jou karakters het meestal oorspronklike Afrikaanse name, soos Patrys, Hessie Tessie, Elletjie Kelelletjie, Anys, Rindi en Hedda. Kry jy hulle in ’n boek soos ’n Naam vir my kind of waar kom die name vandaan?
Jy’s so snaaks! Nee, uit doods- en koerantberigte. Soms het die naam ’n betekenis of klank wat waarskynlik net vir my iets beteken. Hessie Tessie en Elletjie Kelelletjie kom uit ou Afrikaanse kinderrympies.
Lucky, die nimlike rentboy van die Karoo, verskyn in meer as een verhaal. Ons het hom in Eben Venter se roman Santa Gamka leer ken. Moes jy Eben se toestemming vra om Lucky te laat voortleef?
Ja. Eben is ’n ou vriend. Hy het geen probleem daarmee gehad nie. Toe hy hierdie boek lees, het hy wel vir my gesê Lucky was nie so pasperfek soos syne nie. En toe lag ons.
Jy het ’n drama geskryf met die titel Rondomskrik en dis ook in dié buurt waar Lucky in jou bundel woon. Hoe het jy op dié naam gekom en wat sê dit vir jou?
Ek weet nie en ek moet dit opvolg, want dit pla my. Ek dink, dínk, ’n deel van Noordeinde in Prince Albert word informeel so genoem. Of dalk ’n buurt van Bredasdorp? Agterna het ek gehoor daar’s ook so ’n plek, of plaas, by Malmesbury in die Swartland. Hoe ook al, vir my verwys dit na die skrik, of vrees, vir die oorweldigende armoede én geweld wat rondom ons is.
Jy skryf ’n erotiese verhaal, “Stasie”, vanuit ’n manlike perspektief. Hoe kry jy dit reg om jou so goed in ’n man se denkwêreld in te leef?
Ons moet seker eers die Men are from Mars-brigade vra of dié Venus nie vir kater aan die stert beet het nie.
“Jy’t my nooit vertel hoekom Nan haar glamour vir jou verloor het nie, Sus,” sê ’n karakter in “Al wat ek sien”. Só weet ons onmiddellik dat Nan ’n ander kant ook het. Stem jy saam dat ’n goeie skrywer spanning skep deur die leser met presies die regte inligting op die regte oomblik te lei of te mislei?
Met die ontploffing van misdaadskrywe die wêreld oor is ek meer bewus van spanning, wel onderliggend, in my eie werk.