Mens moet nooit ophou droom nie, het die bekroonde sanger en TV-aanbieder Pieter Koen aan Jackie Pienaar-Brink gesê.
My mens! Alles wat sin gemaak het, maak daarna nie noodwendig meer sin nie. Jou hele lewe word omgekeer. Jy is skielik meer volwasse as wat jy ooit was. Ek dink as ’n ou daardie oomblik in ’n botteltjie kan vasvang, sal dit van baie dik glas moet wees om al die energie en blydskap binne te hou.
Wat is jou droom vir jou kinders?
Om eerstens altyd so spontaan te wees soos hulle tans is. Elkeen het sy of haar eie spesiale eienskappe en dis ’n enorme voorreg vir ons om elkeen te sien groei – meer nog, om aan hulle die platforms te gee om hul talente ten volle te ontgin, wat dan ook my ander groot begeerte vir hulle is. Soos elke ander ouer droom ek ook dat hulle in ’n land van vrede en geleenthede hulself as volwassenes vind.
Wat was jou gunstelingvakke op skool? Het jy aan sport en ander buitemuurse aktiwiteite deelgeneem?
Ek het baie van biologie en tale gehou, maar my gunsteling was seker maar pouse … Ek was nie die kranigste sportman nie en het maar meestal op atletiek gefokus. My gunstelinge was middel- en langafstande. My ander buitemuurse aktiwiteite het maar ’n optrede hier en daar behels. Ek was ook ’n platejoggie by die skoolsokkie-jols, troues en dergelike geleenthede.
Wat geniet jy die meeste: sangoptredes, radio- of TV-werk?
Ek het my lewe eintlik nog altyd rondom myself as sanger gebou; die ander het oor my pad gekom omdat ek elke faset van die bedryf wou ervaar. Genadiglik is my aanvoeling daarvoor ook van so ’n aard dat ek dit goed kan doen. Ek sal nie wil of kan kies nie. Ek sou eerder aan maniere wou dink om almal gelyktydig te doen sonder om die een af te skeep. (Pieter is ’n Sondag-aanbieder vir Jacaranda FM.)
Wat is jou gunsteling-liedjie(s)?
Daar is gunstelinge op elke album – elkeen was immers op ’n ander tyd in ’n mens se lewe en dra derhalwe ’n sekere betekenis wat met daardie era geassosieer kan word.
– Skud jou Biscuit omdat dit my eerste album was wat regtig ge-happen het. En dit is al jare, sedert my Radio Rippel-dae, ’n sêding van my.
– Tattoo het my as kunstenaar in die bedryf gevestig.
– Drie Susters sing nie net lekker en is gewild nie, maar die musiekvideo daarvan was vir my baie besonders omdat Casper de Vries deel daarvan kon wees.
– Man van Staal het ’n ander sy van my as mens en kunstenaar getoon. Die een ding wat ek doen loop sommer net lekker!
Watter instrumente bespeel jy?
Ek kan myself help met die kitaar. Dalk moet ek in die fleur van my lewe weer begin met klavierlesse. Dit bly een van die instrumente waarop ek nog altyd net ’n bietjie kon tokkel, maar nooit regtig kon speel nie. Hier is ’n klavier, ’n orrel en ’n handvol kitare in ons huis in Pretoria.
Het jy al besonder “slegte” optredes beleef?
Daar was so ’n paar deur die jare. Een wat ek relatief goed onthou, was ’n geselligheid waar dit regtig vir my gevoel het asof ek die mosterd na die maal was eerder as die skaapboud op die bord. Ek put baie van my energie uit die gehoor vir wie ek sing. As hulle meelewing swak is, of soos in hierdie geval heeltemal ontbreek, is dit vir my ’n enorme frustrasie. Ek wil soveel moontlik nuwe aanhangers bykry tydens ’n optrede, maar met hierdie een het dit vir my gevoel asof ek ’n vreemdeling in my eie land was; asof ek vir die tafels en stoele sing. Ek het nietemin deurgedruk en troos my daaraan dat elkeen van my kollegas in die bedryf ook so ’n storie sal kan vertel.
Wat was jou hoogtepunte?
Daar was heelwat, soos die keer toe ek saam met die internasionaal bekende groep Smokie deur die land kon toer, en toe ek jare terug as nuweling vir Steve Hofmeyr as openingskunstenaar kon optree en die kompliment wat hy my daarna gegee het. Daar was ook die keer wat ek deel was van ’n uitgesoekte klomp kunstenaars wat as Die 7 Wonders deur die land getoer het – saam met Patricia Lewis, Die Campbells, Kurt Darren, Amor, Nádine, en Nianell. En my eerste verskyning op die hoofverhoë van die vernaamste feeste soos die KKNK, Aardklop, Innibos, eintlik maar elke denkbare fees.
Enige staaltjies?
Daar is heelwat, veral wanneer ’n mens die geleentheid kry om saam met ander kunstenaars te toer. Ek onthou die keer toe ek in my optredeskoene gespring het, net om uit te vind dat iemand dit vol skeerroom gespuit het. Ek moes maar deurdruk met die skuim en al …