Tien vrae aan die akteurs Marius Weyers en Sandra Prinsloo, wat vir die eerste keer in 25 jaar weer saam op die silwerdoek in Twee Grade van Moord, verskyn:
Hare en Grimering Michelle Dickman
Hoe sal jy jou medespeler beskryf:
Sandra: Marius is die eerlikste, hardwerkendste en mees gefokusde akteur wat ek ken. En boonop ’n besondere nice mens ook. Hy het die vermoë om ’n rol te vat en regtig iets daarvan te maak. Hy is net in ’n ander klas, want hy is nie bang om nuwe goed te probeer nie.
Marius: Sy is lieflik, sexy en volkome vrou. Sy is net so hardwerkend en eerlik (en kan ook maar moeilik raak by tye (knipoog), maar ons is werklik na aan mekaar en verstaan mekaar. Ons het al moeilike goed saam gedoen en ek weet ek kan maar die grense verskuif, sy sal daar wees om dit te ontvang en terug te gee.
Hoe hanteer jy kritiek of kritiese resensies?
Sandra: Dit hang af van wie en waar dit kom. Ek het meer as tien jaar lank nie resensies gelees nie, want dit raak jou beslis en dit kom sit onder jou vel. As jy weer op die verhoog kom, lui daardie kritiek in jou ore en inhibeer jou op ’n manier. Onuitgesproke kritiek is egter die ergste – as mede-akteurs ná die vertoning agter die verhoog kom om te kom groet en net niks oor my spel sê nie. Sê net iets! Al is dit dat dit nie jou smaak was nie.
Marius: As jy op die verhoog gaan, gee jy alles. Teen die tyd dat die gordyn sak, is jy gestroop. Moeg en kaal. As mense dan stilbly oor jou optrede, raak dit jou. Hulle behoort te weet hoe dit voel.
Het julle rolle wat uitstaan en ekstra spesiaal was?
Albei: Om te vergelyk, is amper onmoontlik. Elke rol is ’n hoogtepunt. Die hoogtepunt is dikwels die medespelers en die regisseur.
Watter rolle was die slegste of onaangenaamste om te doen?
Sandra: Miss Julie gedurende die Apartheidsjare se omstandighede was nie lekker nie. Daar was doodsbriewe en bomdreigemente en elke aand as jy op die verhoog stap, wonder jy of die bom vanaand sal afgaan. Dit was sleg om te voel jou eie mense het jou verwerp omdat jy ’n wit vrou teenoor ’n swart man speel. Maar dit het my geleer om op my werk; op die rol te fokus. Jy kom gou agter wie is jou bondgenote. Ek was baie jonger toe. Ek dink dit sou dalk vandag makliker gewees het?
Marius: Hamlet en Othello. Die ergste is om op te tree as jy nie in die rol of die produksie glo nie. Dat jy net wens dit kan verbykom. Maar dis daardie deurdruk wat jou sterker maak.
Is daar rolle waaroor julle spyt is?
Albei: Nee, maar daar is rolle wat ons geweier het, waaroor ons bly is. Daardie rolle wat jy in retrospek kan sê: “Dankie tog, sien jy, ons moes dit nie doen nie.”
Is een van die mediums minder straf op die lyf: toneel, rolprent, sepie?
Albei: Nee. Vir teater voer jy eintlik ’n monnikebestaan van vroeg slaap, reg eet en nie drink nie. Maar met TV skiet jy heeldag, leer saans woorde, om net weer die volgende oggend vroeg op te staan. Omdat ons begrotings vir rolprente so klein is, is verfilmingstyd kort, wat ook beteken jy werk baie lang ure om die rolprent in die kortste moontlike tyd klaar te kry. So elkeen het sy uitdagings.
Na watter akteurs sien julle op?
Albei: Ons is verstom deur die golf jong talent wat ons land getref het. Nie net akteurs nie, maar ook regisseurs, teksskrywers, choreograwe, die hele spektrum. Verder is Meryl Streep die koningin van koninginne; ook Maggie Smith, Helen Mirren, Judy Dench, Cate Blanchett, Bill Murray – te veel om op te noem. Marius vertel van Bill Murray se onlangse rol en Sandra erken dat sy nie tyd het vir fliek nie. “Jy moet minder werk,” laat hy hoor.
Hoe besluit jy of jy ’n rol gaan aanvaar?
Albei: Teks is die belangrikste. Mede-akteurs, regisseur is alles in die tweede plek. Goeie teks maak ons opgewonde. Jy vra onmiddellik jouself af of dit ’n rol is waarby jy aanklank vind. Ons is ook bevoorreg om meestal met mense te werk wat jy vertrou. Die jong talent in ons land is ongelooflik; hul integriteit gaan die verstand te bowe en hulle het ’n hele nuwe manier van dink en doen. Dis verfrissend.
Wat was die mooiste woorde of kompliment wat julle al ooit van ’n regisseur ontvang het?
Albei: Soms is dit net ’n knik of goedkeurende kyk in die oë wat jou hart warm maak. Dan weet jy dit het gewerk.
SOURCES
ROBERT HAMBLIN