Sewe vrae aan die skrywer Marié Heese, wie se nuutste boek, Maestro, pas by Human & Rousseau verskyn het
Hoe lang tyd verloop vandat jy met ’n boek se idee begin, tot hy op die rak staan?
Met Maestro, op ’n maand na drie jaar, en dit was die vinnigste.
Hoeveel keer moes jy die feite nagaan, weer herskryf nadat redakteurs hul insae gelewer het?
Ek weet nie. Dis bitter selde dat my feite blyk verkeerd te wees, want ek is baie deeglik. Maar ek herskryf heelwat om ander redes, soos klagtes dat iets nie duidelik is nie, of ’n karakter kort uitbou, of dialoog oortuig nie …
Waarom dink jy dis noodsaaklik dat ons nou lees van mense wat 400 jaar gelede gewoon het? Watter invloed hoop jy dat hierdie tipe stories op ’n moderne samelewing sal hê?
Ek dink daar is baie raakpunte tussen die verhaal wat ek vertel en die hede soos dit afspeel in SA. Die leser moet maar self die verband insien. Enige goeie boek behoort die leser se insig te verryk.
Na watter skrywers of akademici sien jy op en hoekom?
William Faulkner en Hermann Giliomee. Hulle is my goudstandaard van romans skryf en navorsing doen onderskeidelik.
Wie lees altyd jou werk eerste?
My man, Chris, maar hy wil nie daagliks kort stukkies lees nie. En vriendin Melanie Cilliers, wat geduldig en herhaaldelik gedeeltes lees.
Watter is jou gunstelingboek van alle tye?
Dink nie ek het een nie. Daar is so baie wonderlike boeke. My gunsteling historiese romans is Charles Dickens se A Tale of Two Cities en die werke van Mary Reynolds oor die antieke Grieke, veral The Persian Boy.
Hoe maklik bring kritiek jou van stryk af?
Kritiek op ’n voltooide, gepubliseerde roman skeel my min. Terwyl ek skryf, sal ek alle kritiek deeglik oorweeg en oorskryf as ek saamstem. Kritiek wat daaruit spruit dat die persoon nie behoorlik gelees het nie, maak my kwaad.