Dis nie elke dag wat ’n geoktrooieerde rekenmeester sy das losmaak, moue oprol en ’n riller vol intrige, wraak en aksie skryf nie. Pretorianer Louis Wiid het dit egter gewaag, skryf Maryke Roberts
Sewe vrae aan Louis Wiid, wie se eerste boek, Submerged, pas by Jacana verskyn het:
1. Jy het ’n internasionale storie met Afrika-wortels geskryf. Hoekom?
Ek wou vir lesers wys dat Suid-Afrikaners ook die hoofrolle kan speel in internasionale stories en dit boonop goed kan doen.
2. Jou boek is baie dik, dink jy die storie regverdig soveel bladsye?
Ek het ’n kleintjie dood aan vlak karakters, waar die leser nie seker is hoekom hulle op sekere maniere reageer of optree nie. Ek wou aan elke karakter genoeg ruimte wy om hulle ten volle aan die leser voor te stel. Ek het die hoofstukke kort gehou en probeer om nie te veel karakters in te bring, wat lesers sou verwar nie.
3. Wie is jou grootste kritikus?
Alex Smith, by wie ek my skryfkursusse geloop het. Sy het vyf romans onder die belt: Agency Blue, Algeria’s Way, Drinking from the Dragon’s Well, Four Drunk Beauties en Devilskin & Dearlove. Sy het my gehelp om koers te hou en seker te maak daar is goeie vloei in die boek.
4. Jou boek het by Jacana onder die druknaam Staging Post verskyn. Hoekom het jy op hulle besluit?
Ek het my boek na oorsese en plaaslike uitgewers gestuur en baie positiewe terugvoer ontvang. Ek het egter op Jacana besluit, want dit het behels dat ek die boek moes finansier en die risiko dra, maar as dit ’n sukses is, is dit ook alles myne; ek besit die volle regte en ek kan vir opvolg boeke na enige uitgewer gaan. My boek is nou by 29 Exclusive Books en ander boekwinkels in Suid-Afrika, Botswana en Namibië beskikbaar.
5. Wie lees jy graag en waarna soek jy in ’n boek?
Ek vind dat meeste misdaadstories nie genoeg humor het nie en jy worstel deur die hele boek sonder ’n enkele grappie. Ook is skrywers geneig om te probeer beïndruk met hoë woorde, maar vlak karakterisering. Ek geniet Deon Meyer, Lee Child, John Connolly – ek droom daarvan om eendag soos Connolly te kan skryf. Sy karakters is sterk, is baie male gebroke en hy het ’n vlymskerp humorsin.
6. Wat is huis vir jou?
Om my honde smiddae vir ’n stappie te neem, saam met my vrou op die bank te sit en ’n reeks of fliek te kyk. En natuurlik om daar saam die volgende reis te beplan!
7. Waar is jou gunsteling-reisbestemming?
Edinburg in Skotland. Ons was daar gedurende die Fringe-fees en dit was ’n magiese ondervinding.