Meer as 170 publikasies én ’n opdrag as navorsingsgenoot op 71 wil gedoen wees. Die akademikus Hans du Plessis het hierdie kuns gemaklik vervolmaak en sy tiende roman Tussen die klippe het pas verskyn, skryf Maryke Roberts
Tien vrae aan die skrywer, digter, Hans du Plessis, wie se tiende roman, Tussen die klippe, pas verskyn het:
1. Na watter skrywers sien jy op en geniet jy om te lees?
John Steinbeck
2. Wat was die grootste les wat jy nog as skrywer moes leer?
Om eerlik en sonder tierlantyntjies vir ‘n gewone leser te skryf.
3. Wat lê op jou bedkassie?
Omdat ek swak sien, lê net my radio en RSG op my bedkassie, maar onder die leesmasjien in die studeerkamer, wag Willie Esterhuyse se Geagte Jahwe.
4. Hoe ontspan jy?
Ek stap in die natuur.
5. Wat beteken huis vir jou?
Alkantmooi, ons huis op Eersterivierstrand, se groot stoep saam met my vrou, Magdaleen, my kinders en my kleinkinders en die see wat tussenin bly praat.
6. Van watter boek/storielyn/genre droom jy vir die toekoms?
‘n Dik roman oor die wel en wee van ‘n Afrikaanse familie.
7. Waaraan werk jy volgende?
Die familieroman …
8. As jy nie met woorde getoor het nie, watter ander beroep sou jy kon volg?
’n Wildbewaarder in die diepste Bosveld.
9. Hoe lyk jou skryfroetine? Is dit idees of sinne wat neergeskribbel word om eendag ’n boek te word, of gaan sit jy met ’n idee en begin skryf?
Ek gaan sit met ’n idee, begin skryf en die genade loop saam met my deur die gesukkel. Dan skryf ek oor en oor en oor.
10. Wat is die mooiste woorde wat jy nog oor die skryfkuns gehoor of gelees het?
Petra Müller het my geleer skryf is om nie moeg te word daarvan om moeg te word nie.