Die sanger, entrepreneur en TV-aanbieder Gerrie Pretorius het ‘n klompie vrae oor homself en sy familie beantwoord.
Watter musiekgenre is jou gunsteling?
Big band, swing en jazz, maar ‘n lekker boerenommer is ook goed op sy tyd. Ek het deesdae ook ‘n waardering vir die klassieke. My musieksmaak is wyd en ek luister baie breed.
Wie is jou gunstelingsangers?
In Afrikaans seker Coenie de Villiers. Internasionaal Young the Giant. Ek is ook mal oor die ouer ouens soos Roy Orbison en Elvis se gospelalbum bly een van my gunstelinge.
Waar dink jy kom jou sakebrein vandaan?
My ma se broer, Sias, en ek is baie na aan mekaar. Hy was nog altyd my besigheidsrolmodel. Hy het homself in verskeie loopbane tot top-sakeman opgewerk en baie familielede in die proses geïnspireer. Ek dink nie dis noodwendig ‘n besigheidsbrein nie eerder as ‘n oortuiging om ‘n verskil te maak en dit wat jy doen met 20% meer passie as die ou langs jou te doen. Dalk ook ‘n bietjie domastrantheid. Ek was klein, toe smous ek al. Terwyl my pêlle geswem het, het ek hotdogs verkoop.
Klik hier om ‘n agter-die-skerms-video van Gerrie Pretorius te kyk
Vertel ‘n bietjie van jou familie.
Ek het as die jongste van drie kinders op ‘n kleinhoewe in Tergniet in die Suid-Kaap, nie ver van Mosselbaai af nie, grootgeword. Oupa Hansie, ‘n bouer, was ‘n groot gees daar en het heelwat tot Tergniet se ontwikkeling bygedra. Danksy hom is daar vandag elektrisiteit, want destyds wou die oumense niks weet daarvan nie.
My pa, Gert, en my ma, Susan, het my as kind die meeste beïnvloed. Hulle is hardwerkende mense wat ons in alles ondersteun het, hetsy in sport, ons perde of my alewige boerdery wat ek aangehou het. Ek onthou hoe ek by ‘n partytjie by vriende wat geboer het ‘n vark present gekry het en dit in die kattebak van my pa se nuwe kar kleinhoewe toe gesmokkel het. Ek het maar die radio hard op musiek gesit, net ingeval hy snork. Teen die tyd wat my pa van die vark in die skuur te hore gekom het, was die ergste oor.
Ons Petoorse kan groot kuier. Ons onthaal graag en is baie sosiaal. Ons het grootgeword met vriende wat naweke kom kuier of braai het. My suster, Lindie, is ‘n batebestuurder in Port Elizabeth en my broer, Jacques, het op Mosselbaai sy eie onderneming in die motorbedryf.
My ma hanteer van my verhurings vir die Pretorius-ontwikkelingstrust en ná meer as 30 jaar in die restaurantbedryf kook sy nog gereeld vir groot gesellighede. My pa het ‘n tuindienste-onderneming om hom besig te hou en is al ‘n klompie jare president van die George-skou.
Enige nuwe toekomsplanne?
Ek het onlangs ‘n nuwe musiekkontrak losgeslaan waaroor ek baie opgewonde is, maar wil nog nie te veel daaroor verklap nie. Ek skuld my aanhangers ‘n volwaardige Gerrie-album met mooi ballades en mooi verwerkings. En die Pretorius-ontwikkelingstrust beplan ‘n bekostigbare aftree-oord.
Hoe sal jy graag onthou wil word?
Die ou wat mooi gesing het, ons die wêreld en sy uniekheid gewys het, en die ou wat nooit wou opgee nie …