Tien vrae aan Fikile Hlatshwayo, outeur van Blacks Do Caravan wat by Jacana Media verskyn het
Het julle nog dieselfde voertuig en woonwa as in die boek?
Dieselfde woonwa, maar ons het intussen die voertuig opgradeer.
Het julle die woonwa aangepas of herbou die afgelope twee jaar sedert jul eerste reis?
Nee, dis nog dieselfde woonwa, maar dit kort ’n diens. Dankie dat jy my herinner het!
Wat was die grootste les wat jy op die woonwareis geleer het?
Niks is onmoontlik nie. Ek kan enigiets doen waarop ek my aandag fokus.
Hoe het die reis jou houding jeens stresbestuur verander?
Positiewe denke en die vooruitsig van ’n kampnaweek het die wêreld se verskil aan my stresvlakke gemaak.
Watter park was jul gunsteling?
Dis te moeilik om een te kies, want die meeste van hulle was ongelooflik en met die wonders van die natuur toegerus.
Watter park het julle teleurgestel?
Party parke lyk ongelooflik op die webwerf, maar as jy daar kom, kan jy jou oë nie glo nie. Ek kan nie name noem nie, want ek weet van hulle het intussen opgradeer. Maar ek het geleer dat jy nie alles kan glo wat jy op die web lees nie; doen jou huiswerk en gesels met ander vakansiegangers voor jy vertrek.
Waarsonder kon julle nie in die wildernis klaarkom nie?
5 liter-waterbottels is ’n goeie idee, want in sommige dele van die land is die watergehalte nie te goed nie.
Het jul gesin ’n gunsteling-kampgesegde?
“Niks klop die wonders van die natuur nie.”
Ly jy steeds aan depressie en oorwerktheid?
Glad nie, ek het ’n maklike manier gekry om daarmee klaar te speel – gaan kamp!
Hoe gemaak met skoolgaande kinders as jy vir langer as die skoolvakansie wil wegbreek?
Die kinders se skole was baie ondersteunend en het ons gehelp met leermateriaal en programme vir die drie maande. Ons het baie navorsing op die internet gedoen, maar ons het meestal lewenservaringe gebruik om hul skooltemas te dek. Daar is nie regtig ’n geskikter tyd of ouderdom vir kinders as nou nie. Die vrees vir die onbekende is gewoonlik die enigste rede hoekom meer gesinne nie hierdie soort reise aanpak en uit hul gemaksone breek nie. Goeie beplanning is van kardinale belang. Ons het byvoorbeeld in parke gebly wat nie kindervriendelik was nie. Doen jou huiswerk sodat die avontuur ook vir die kinders pret is. Betrek hulle by die beplanning en hoor hul stemme oor hul bucket-list.