Rolle wat gekompliseerde vroue met verskillende lae uitbeeld, is Erica Wessels se kos, maar tuis is sy net Erica: gek na vryheid, vioolmusiek en pret. Lees meer oor haar in ons 5 Augustus-uitgawe. Sy beantwoord nog tien vrae hier
MARYKE ROBERTS
In watter rolle sien ons jou in die volgende paar weke?
Behalwe My Father’s War en Vlees van my vlees, is ek in Hatched Hour wat teen November in fliekteaters gaan wees. Dis ’n riller en ek speel Belle Sudlow, ’n hardegatprokureur wat van haar verantwoordelikhede weghardloop en nie eienaarskap van haar verkeerde dade wil neem nie.
Na watter akteurs sien jy op?
Cate Blanchett, Catherine Keener, Jessica Chastain en Sean Penn.
Jy is een oomblik skreeusnaaks in komedie en volgende oomblik in ? ernstige rol. Waar voel jy gemakliker?
Ek hou van albei, maar wil meer komedie doen – dis groot pret, veral as jy teenoor die regte akteurs speel.
Het jy troeteldiere?
Ja, twee katte, Nana en Mila, albei opgetelde katte. Ek en my kêrel, Willem, is soos regte ouers oor hulle, hulle word opgepiep en bederf en ons kan lekker lag vir hul manewales.
Watter tipe rol is op jou bucket list?
Iets internasionaals sal lekker wees.
As jy jouself in vyf woorde moet opsom, wat sal dit wees?
Ek hou regtig nie van hierdie vraag nie, want ek weet nie. Vyf jaar terug kon ek dalk antwoord.
Hoe ontspan jy?
Ek is mal daaroor om langs die see te stap, voetslaan, goeie etes met lekker pêlle, goeie wyn, flieks kyk, met my katte speel.
Wat is die mooiste woorde wat jy ooit gehoor het?
Ek het nie gunstelinge nie, iets wat gister mooi was, is saam met die tyd weg. Goed is vir my seisoenaal.
Het jy drome van Hollywood?
Ek het nog nooit die American Dream gehad nie; ek sou veel eerder in Londen wou woon en werk, maar soos ek ouer word, is ek heel gemaklik waar ek is.
Hoe belangrik is jou privaatheid vir jou?
Ek is ’n baie privaat mens. Gelukkig herken min mense my op straat, omdat ek nie in sepies speel nie.
SOURCES
ROBERT HAMBLIN