Elvis Blue is die voorbladster van ons 22 April-uitgawe. Hier beantwoord ‘n klompie vrae.
JACKIE PIENAAR-BRINK
Wat was die beste raad wat jy al ontvang het?
‘n Toe bek is ‘n heel bek. Ek was nie die grootste ou op skool nie en my stem het eers op 17 gebreek … Kan jy jou indink hoe hoog ek kon sing! Maar op ‘n ernstiger noot, my ma het toe ek jonk was vir my gesê: “Jan, doen jy jou bes, en die Here doen die res.” As ek nou so na dinge kyk, dink ek sy was reg.
Wat beteken geloof vir jou?
Ek weet vir seker net omdat daar dinge is wat ek nie kan sien nie, dit nie beteken dat dit nie bestaan nie. Soms as ‘n mens op jou lewe terugkyk, besef jy hoeveel dinge nie gewerk het nie en hoe erg dit vir jou was. Maar soms, as jy gelukkig is, sien jy hoe jou paadjie ten spyte van alles steeds op nie so ‘n slegte plek geëindig het nie. Sonder geloof in daardie oomblikke wanneer jy gevoel het niks gaan uitwerk nie, sou die lewe immers ondraaglik gewees het. Geloof is nie vir my ‘n fatalistiese vasgryp aan die idee dat ek net moet glo en sodoende iets kan laat gebeur nie. Dis eerder die wete dat ek oukei sal wees of dinge nou goed of sleg gaan met my.
Dit klink of jou dominee-stiefpa, Piet Venter, ‘n groot rol in jou lewe gespeel het. Vertel ‘n bietjie van hom.
Sy invloed was so groot dat ek hom geensins “stief” noem nie. Dis moeilik om iemand te beskryf wat in so ‘n belangrike stadium van jou lewe betrokke geraak het op die manier wat hy dit gedoen het. Hy het my, my boetie en twee sussies grootgemaak en vir my ma gesorg. Ek sal gelukkig wees as ek so ‘n man kan wees.
Wat maak jou gelukkig en wat maak jou ongelukkig?
Onregverdigheid maak my ongelukkig. As regverdigheid seëvier, is ek gelukkig.
Wat was jou grootste verleentheid op die verhoog? Wat is die bisarste ding wat al op die verhoog na jou gegooi is?
Hahaha! My fans is darem baie gemanierd en gooi nie sommer ‘n ding op die verhoog nie. Ek het al groot verleenthede gehad, maar ek het ‘n ongelooflike vermoë om hulle so gou moontlik te vergeet. Ek het nou die dag ‘n klomp foto’s saam met baie, baie mense geneem. By die huis gekom, het ek gesien my gulp was op elkeen oop.
Is daar enigiets wat jy aan die Suid-Afrikaanse musiekbedryf sou wou verander?
Streaming en onwettige downloads. Iets wat mense dink baie onskuldig is, het eintlik ‘n groot impak op sowel suksesvolle as nuwe kunstenaars se vermoë om ‘n lewe uit musiek te maak. Dis só ‘n voorreg om sowel Engelse as Afrikaanse musiek te doen, want Afrikaanse mense is baie lojaal.