Oral in ons land werk jeugorganisasies blinkoog en hard aan ‘n beter toekoms vir ons land
SHANDA LUYT
Die jeug is ons toekoms, sê hulle, maar dan hoor jy van die eindelose probleme in SA se skole, sosiale probleme by jeugdiges soos dwelmmisbruik, werkloosheid en tienerswangerskappe, of jy ontmoet ‘n jeugdige met ‘n houdingsprobleem en jy wonder presies hoe duister ons toekoms gaan wees.
Maar daar is ‘n ander sy aan daardie prentjie: letterlik duisende jeugorganisasies is landwyd aan die swoeg en werskaf om ons jeug te bou en toe te rus vir die reusetaak wat vir hulle voorlê – met groot sukses.
Ons gesels met drie jeugorganisasies wat vir ‘n beter Suid-Afrika werk in ons 29 Julie-uitgawe:
Wie is ons jeug?
Hoewel baie mense vandag se jeug in ‘n negatiewe lig sien, sê Sofia sy glo nie dit is ‘n ware weerspieëling van wie hulle is nie. “Ons glo in die potensiaal en verandering dat die jeug kan dryf en lei.”
“Ons word elke dag gemotiveer deur jeugdiges wat bo hul omstandighede uitstyg en daarom het die Salesian Life Choices laas Junie ‘n veldtog genaamd ‘30 stories in 30 days’ begin. Die veldtog deel een inspirerende storie ‘n dag oor die jeug in Kaapstad. Kyk gerus op www.capetownsyouth.com. Ons hoop hierdie platform gee ‘n stem aan die jeug en skep bewustheid van die werklikhede wat die jeug vandag moet hanteer – en hul moed om dit te oorkom.”
Lydia sê die jeug se sin van “dit kom my toe” is hul grootste struikelblok. “Ek dink hoe meer ons jongmense aan die konsep van entrepreneurskap blootstel, hoe waarskynliker is dit dat ons daarin sal slaag om meer van hulle die belangrikheid daarvan te laat besef om ‘n kultuur van entrepreneurskap aan te gryp.”
Joy wil nie graag veralgemeen wat die jeug betref nie, omdat sy voel kwessies soos armoede kan ‘n groot rol speel in hoe hulle op die lewe reageer. “Dit gesê, het ons gesien dat die jeug weet hulle het ‘n stem; hulle het die mag om verandering mee te bring, wat ‘n groot bate is. Ek dink enige swak punte van die jeug word meegebring deur die samelewing se versuim om strukturele probleme in opvoeding, gesondheidsorg en werksverskaffing te hanteer.”
Joy sê sy het baie hoop vir die toekoms van ons land as gevolg van haar daaglikse kontak met ongelooflik inspirerende jong Suid-Afrikaners. “Die meeste van my kollegas is in hul twintigerjare, net soos die meeste van IkamvaYouth se tutors. Verlede jaar het die vrywilligers meer as R14 miljoen se waarde in mentorskap gegee, en die meeste van ons tutors kom uit soortgelyke agtergronde as ons leerders.
“Dis ongelooflik inspirerend en bemoedigend om te sien hoe jongmense soveel van hul tyd gee om kennis te bou.”