Tien vrae aan Denise Newman, bekroonde aktrise, wat tans die rol van Bridgette October in die sepie Suidooster vertolk:
Bridgette verafgod geld, maar wat is haar kosbaarste besitting?
Haar seun, Jerome, gespeel deur Danny Ross. Hy is ’n wonderlike karakter. Ek hou ook baie van Jerome en ek is mal oor Ian. Hy is ’n baddie, maar het ’n baie sagte kant en hy kan maklik seerkry. Daar is nie een karakter in Suidooster waarvan ek nie hou nie, dis ’n ongelooflike groep mense bymekaar.
Wat is die grootste ooreenkomste en verskille tussen jou en die karakter, Bridgette?
Ons hou albei van ’n glas rooiwyn en ons het albei baie sterk menings oor dinge, maar ons energie verskil geweldig. Vir haar is sy nooit goed genoeg nie. Die dele in die sepie waar ek haar humeurig moet speel, put my geweldig uit. Sy is nie redelik soos ek (die meeste van die tyd) is nie!
Wat is die beste ding wat jy al by jou man, Clive, geleer het?
Om te dink voor ek praat. As die woorde gaan seermaak, gaan dit vir altyd tussen ons lê. Akteurs is passievol en alles wat ons ervaar, is effe verhewe. Hy het my kalmte geleer.
Hoe het die toneelspelmilieu oor die laaste 30 jaar verander?
Daar is meer werk vir akteurs, maar ook baie meer akteurs. So baie jongmense dink almal kan toneelspeel, want ons laat dit maklik lyk. Jy moet jouself geweldig goed ken en dan ’n verkleurmannetjie word wat van een rol na die ander kan oorgaan. Wat ek van die onderwerpe en tekste van die nuwe geslag geniet, is dat ons verskillende stories, kulture en gemeenskappe se stories begin ontgin. Ons bekyk onsself dieper.
Jy wissel gereeld tussen TV, rolprent en teater. Is een lekkerder as die ander twee?
Toneel, want dis waar ek begin het. Dit gee jou ook ’n geleentheid om tydens die drie of vier weke se repetisie in die karakter in te klim, onder haar vel te krap, te skaaf, nuwe dinge by te sit en onnodiges weg te gooi. Ek glo elke akteur moet een maal per jaar toneel doen, want dit neem jou terug na jou craft. Ek geniet egter die ander twee ook, want dit gee my veelsydigheid. Vollengteflieks gee jou die hele teks, so jy weet waarheen die karakter gaan beweeg, maar TV is vinnig. Jy het nie tyd om te lank oor toneel te tob nie. Alles het voor- en nadele, solank jy dit net geniet!
Waar is huis en wat beteken huis vir jou?
Dis enige plek waar my familie is. Ons woon sedert 1985 in Athlone, Kaapstad, en ons twee meisiekinders is nog by ons in die huis. Clive se seun is al uit die huis. Ek en Clive is sulke opgaarders, ons huis is vol goedjies wat ons oor die jare versamel het. Ek weet nie wat ons sal doen as ons die dag moet trek nie!
Wil jy ’n rol uitsonder wat jy baie geniet het?
Ek voel sterk oor storievertel en is altyd passievol oor die projek waarmee ek nou besig is. Tussen duiwels, Shirley Adams en Onder engele lê baie na aan my hart.
Wat maak jou hart bly én seer oor die Suid-Afrika van 2016? Is dat waarvan jy gedroom het?
Glad nie. Ons huidige leierskap pla my; nie almal nie, net die paar vrot appels in daai mandjie en die feit dat die goeie appels dit nie kan raaksien nie. Maar aan die ander kant, ons het bitter ver gekom in ’n bietjie meer as 20 jaar en ons het gedink dit gaan maklik wees. Nou besef ons dis meer kompleks as om net vir mense stemreg te gee.
Wat is vir jou noodsaaklik in ’n geloofwaardige karakter?
Jy as akteur moet dit glo, want dan sal jou mede-akteurs en die gehoor jou glo. Ek stem nie altyd saam met die goed wat Bridgette aanvang nie, maar ek eer haar karakter. Jy oordeel nooit jou karakter nie.
By wie klop jy aan vir raad?
Altyd eerste by Clive. Ek vertrou sy oordeel. Daarna gaan ek na my vriend Basil Appollis wat die regisseur van Dulcie September was en saam met Sylvia Vollenhoven die teks geskryf het en ook na Patric Tariq Mellet, wat baie interessante geskiedkundige blogs skryf. Maar ek het ook geleer as jy vir te veel mense van jou planne vertel, kry die idee voete en loop …