Tien vrae aan Cass Abrahams, die Koningin van Speserye en die vrou wat Kaaps-Maleise kos in talle huishoudings gewild gemaak het en nou weer ’n nuwe kosboek uitgegee het
Is daar een spesifieke spesery wat mense tuis verkeerd “verstaan” en dus miskyk?
Mense gebruik alle speserye te min en boonop verkeerd. Meeste mense is bang vir speserye!
Is jy spyt jy het die onderwys verlaat?
Ja, dit was ’n harde slag vir my. Mense het oorsese berigte oor my onderrigmetodes publiseer. Ek het byvoorbeeld biologiese- en wetenskaplike werk aan die hand van tekenprente op die bord verduidelik. Mnr Suurstof sou daar wees met sy Panama-hoed en swierige kierie en hoe hy die hele liggaam voed en met ander gasse omgaan. Vir blinde studente het ek organe uit tinfoelie gebou, sodat hulle die begrippe in iets konkreet kon voel.
As jy nie ’n onderwyser en sjef geword het nie, watter ander beroep sou jy geniet het?
Ek wou graag maatskaplike werker word, maar ek is hopeloos te sag. Ek huil nog voor ek die storie hoor en dan moet die persoon wie by my berading kom soek het, my troos!
Wat is trooskos vir jou?
Ek is mal oor ’n bredie en daar is nie ’n gunsteling nie: boontjies, waterblommetjies, kool, tamatie. Almal is lekker en almal het ’n unieke spesery wat sy geur uitbring. Met lank kook, verloor die groente hul smaak en trek die geur van die vleis aan. Met die regte speserye bring jy daardie uniekheid na vore.
Wat was trooskos vir jou kinders toe hulle nog in die huis was?
Boeber (’n melkpoeding met onder meer kaneel en rooswater) was een van die groot gunstelinge. My fudge was ook baie gewild – ook onder hul maats in die buurt.
Wat eet jy graag as jy reis?
Ek hou van outentieke kos; kos wat uit mense se harte kom. Ek probeer altyd om die tradisionele disse van die land waarin ek reis, te proe.
Wat maak jy gereeld en wat kook jy graag vir gaste?
Gereeld: brood met grondboontjiebotter en konfyt. Ek is lief daarvoor. Vir gaste maak ek heel dikwels die goed wat meeste Moslem-vroue nie vir hul mans wil berei nie, maar waaroor hul mans mal is, soos afval of pote.
Hoe voel jy oor die boek?
Toe ek die eerste een sien, het ek by myself gedink: “Wat het jou besiel”. Maar ek het een boek nou onlangs vir my seun in Duitsland gestuur en hy was baie opgemaak daarmee. Hy het as deel van sy erfenis gesien en gesê hy verstaan nou beter waar ons vandaan kom en hoekom ek soms op sekere maniere optree. Dan dink ek die boek is geslaagd.
Kry jy kritiek uit die Maleise gemeenskap omdat jy familieresepte so uitbasuin?
Ja, want vir baie Maleise vroue lê hul krag in hul resepte en ek gee dit nou weg. Netnou kook iemand anders beter as hulle en dit met hul eie resepte!
Hoe ontspan jy?
Ek speel Spider Solitaire en vul ook graag blokkiesraaisels in. Ek hou daarvan om my brein aktief te hou. En ek lees graag fiksie. Ek geniet murder mysteries. Ek hou nie van nie-fiksie nie. Ander mense se sad stories, maak my depressief.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.