Bettina Wyngaard, die prokureur-skrywer van Grabouw, se nuwe boek, Slaafs, is ‘n misdaadroman met ‘n tema waarvan ons moet kennis neem, het Maryke Roberts ontdek
Lees die onderhoud met haar in ons 1 Julie 2016-uitgawe.
11 vrae aan skrywer Bettina Wyngaard, wie se jongste boek, Slaafs, by Umuzi verskyn het.
Wat maak jou kwaad?
Onregverdigheid en ongeregtigheid.
Wat kan elke Suid-Afrikaner doen om ongeregtigheid te laat verdwyn en ons land toe te laat om te genees?
Ons is geneig om stil te bly wanneer ons iemand sien verkeerd optree. Dit moet end kry. As ons mense konfronteer en tot verantwoording roep wanneer ons ongeregtigheid sien, dan moet dit ophou.
Wat maak jou bly?
As almal net gaaf is met mekaar.
Wat is die grootste les wat jy in die lewe geleer het?
“Be true to yourself.” As jy nie jou eie waarheid kan vertel nie, bring dit groot ongelukkigheid.
Wat maak jou hartseer in die Suid-Afrika van 2016?
Die feit dat ons so hardvogtig teenoor mekaar optree. Ons sien mekaar nie as mense nie; ons staar ons blind teen labels.
Voel jy daar is groei sedert demokrasie?
Ons het baie gegroei tot so vier, vyf jaar gelede. Nou voel dit vir my of ons agteruitgly. Rassisme is ewe skielik in alles en word van alle podiums af uitbasuin.
Hoe belangrik is dit dat mense in skryfwerk, digkuns, teater die kans gegun word om gehoor te word?
Absoluut belangrik! Die kunste, alle vorme daarvan, het die potensiaal om die beste in ons menswees uit te bring, en om gespreksgeleenthede te open, waar mense onbewaak met mekaar kan deel. Juis daarom is dit so jammer dat kuns as nutteloos afgemaak en gemarginaliseer word.
Hoe lyk jou ideale Suid-Afrika?
Dis ’n land waar mense omgee vir mekaar, vir diere, vir die omgewing, waar ons lig op die aarde en sag met mekaar lewe.
Na watter woordkunstenaars kyk jy op?
Daar’s baie. Margaret Atwood is natuurlik nou al jare lank my literary crush, so ook Toni Morrisson, Alice Walker, Maya Angelou, Amy Tan, Barbara Kingsolver. En plaaslik is daar André Brink, Marita van der Vyver, Kerneels Breytenbach en veel, veel meer. Ek het taamlik losse sedes wat my toegeneentheid tot woordkunstenaars betref – daar’s altyd plek vir meer in my hart.
Wat is jou lewensleuse?
“Be the change you want to see in the world” en “To thine own self be true…”
Wat kan jy oor jou volgende boek verklap?
Dis nog redelik in die beginstadium, maar ek kan belowe dit sal selfs meer aksiebelaaid as Slaafs wees.
SOURCES
Jac Kritzinger