Advokaat Johan Kruger is voorsitter van die Raad van die Noordwes-Universiteit, het verskeie termyne as regter gedien en was betrokke by ons Grondwet. Dis egter sy talent as fiksieskrywer wat jou vasgenael hou, skryf Maryke Roberts
Sewe vrae aan advokaat Johan Kruger, wie se jongste boek, Die formidabele Ling Ho, op die Exclusive Books Home Bru-versameling was:
Wat is jou gunstelingboeke?
Dit hang van my bui af. Is ek lus vir nie-fiksie wat vra vir fokus, konsentrasie of om iets by te leer? Of vir ontvlugting in ’n goed geskryfde spanningsverhaal? Dalk een van ons vele goeie romanskrywers in Afrikaans? Of iets klassieks? Of filosofie? Of ’n bibliografie of dalk iets met ’n historiese inslag? Maak nie saak nie. Per slot van rekening is boeke die deur na die ideëwêreld. En dis idees wat die gees voed, wat ? mens op die pad na rypheid neem. Vir my is dit genoeg.
Wie lees eerste jou manuskripte?
My vrou, Hester, is ’n bibliotekaresse van beroep en ’n ywerige en deurwinterde leser. Die lot tref haar om my pogings eerste te lees, maar ook elke volgende kopie soos wat die proses vorder. Haar kommentaar is gewoonlik in die kol en ek oorweeg haar raad sorgvuldig.
Stel ’n satire die skrywer nie baie bloot nie?
Die leser behoort nie die skrywer in enige boek te “soek” nie – die storie staan op sy eie bene, apart van die skrywer. ’n Satire is eintlik maar net ’n ander manier van kyk en beskryf. Dis met ironie, spot, draakstekery, selfs klugtigheid gelaai en dit bekyk die wêreld uit ’n “ander” en ongewone hoek. Dit vra ook vir ’n balans tussen die samestellende elemente en vir ’n fyn oog en oop gemoed by die leser. Dis gewoonlik tydsgebonde aan ’n bepaalde milieu en omstandighede. Teen daardie agtergrond, voel ek geensins blootgestel deur hierdie satire nie: Ling Ho en sy trawante doen dinge op hul manier en dis vir die leser om te besluit of sy iets uit die storie put of nie.
Wat is jou raad aan voornemende skrywers?
Probeer is die beste geweer. As jy nie begin nie, gaan jy nooit klaarmaak nie. Moenie bang wees om jouself sogenaamd “bloot te stel” nie; tensy jy ’n outobiografie skryf, is dit wat jy skep iets wat buite jou tot stand kom – dis ’n werklikheid apart van jouself. En waar nodig, gebruik die raad van kundiges, van skryfkursusse, van ervare skrywers en redakteurs. Niemand is ooit te oud om te leer nie. Ek leer nog elke dag van my lewe.
Jou gevoel oor die skryfproses?
Behalwe dat skryf bitterlik harde werk is, dink ek nie dit is van pas dat ’n skrywer te veel oor sy eie werk sê nie. JM Coetzee het by geleentheid ges?: “I don’t think it is a good idea for writers to set themselves up as authorities on how their books should be read.” Ek stem saam. Elke leser besluit self wat (indien enigiets) ’n boek vir hom/haar s?.
Wat lê op jou bedkassie?
Tans lees ek (vir die derde keer) Antjie Krog se Country of my Skull. Dis aangrypende stof, wat elke Suid-Afrikaner behoort te lees. Daarna sal ek, vir ’n verandering van klimaat, oorgaan na die satires van, onderskeidelik, Sally Andrew se Recipes for Love and Murder en (ook vir die derde keer) Draaijakkals van George Weideman.
Wie is jou gunstelingskrywers en wat staan uit aan hul werk?
Sjoe, dis moeilik! Wat buitelandse skrywers betref, hou ek baie van Murakami, Hermann Hesse, Umberto Eco en iemand soos Gabriel García Márquez. Dis almal skrywers wat jou tussen die oë slaan, wat jou laat dink en wonder, en wie se karakters jou nooit verlaat nie.
Onder hedendaagse Suid-Afrikaanse skrywers tel JM Coetzee, Deon Meyer (natuurlik!), Karin Brynard, Deborah Steinmair en Etienne van Heerden, en moenie van Etienne Leroux vergeet nie. Wat nie-fiksie betref, lees ek graag oor die kwantumfisika; dis ’n wonderw?reld waarvan ? mens onbewus is, tensy jy die moeite doen om iets daaromtrent te leer. En, ja, ek besit ’n hele versameling boeke oor die Anglo-Boereoorlog en Suid-Afrikaanse geskiedenis. Die buitelandse spanningsverhaal-skrywers wie se boeke ek die meeste geniet, is waarskynlik Michael Connelly en William Diehl.
’n Goeie skrywer se werk gryp jou vas en hóú jou, sodat jy aan die einde van die boek sê: Magtig, wat ’n belewenis!