Geskende vertroue is baie soos ’n opgefrommelde papier, dis moeilik om al die kreukels uit te kry, sê Shanda Luyt
Shanda Luyt
Vertroue is die brose voetstuk waarop verhoudings, hetsy tussen liefdesmaats, ouer en kind of vriende rus. Word dit geskend, is die gevolge seer en ontstellend. Maar kan vertroue volkome herstel word of sal die krakies altyd daarna in die verhouding wys? Dit ís ’n moeilike pad om daar uit te kom, maar ’n vertrouensbreuk kán weer volkome herstel, verklaar sielkundige Bettie Rall van die Cape Gate Therapy Centre in die Kaap – en soms selfs ’n verhouding verbeter.
Herbou vertroue
Die verlies aan vertroue is seker een van die pynlikste resultate van menslike verhoudings wat verkeerd geloop het, sê dr Rosa Bredekamp, sielkundige van Kenridge. “Wanneer vertroue verlore geraak het, is dit baie moeilik vir die betrokke partye om sinvol te gesels en uit te werk wat verkeerd geloop het sonder dat die gesprek in konflik ontaard. Dis slegs ná die pyn van die onthulling verwerk is, dat die betrokke partye kan begin gesels oor wat die situasie voorafgegaan het en hoe om die situasie reg te stel.”
Boublok 1: Erken die pyn
Die eerste ding wat die betrokke partye moet doen, is om uit te vind waarom die pyn vir elkeen so geweldig groot is, sê dr Rosa. “Die persoon wie se vertroue geskaad is, is gewoonlik uiters geskok in die één persoon aan wie hy sy lewe, lief en leed toevertrou het. Gevolglik is sterk gevoelens van verraad, selfs misbruik, en diepe emosionele pyn by die slagoffer aanwesig. Hy of sy moet hierdie emosies en emosionele trauma begin verstaan en hanteer.”
Totdat hierdie emosies van die slagoffer nie deur die oortreder erken word nie, is daar min hoop vir verandering, beklemtoon dr Rosa. “Dis belangrik dat die twee partye die emosionele skade wat aangerig is, moet erken as deel van die genesingsproses.”
Boublok 2: Skulderkenning en ware berou
Die beste is vir die “‘oortreder” om te erken dat sy of haar gedrag onaanvaarbaar was en tot verwydering tussen hom of haar en die ander party gelei het, sê dr Rosa. “Die herstel van kommunikasie moet in die eerste plek van die oortreder af kom. Om hierin te slaag, moet twee take afgehandel word: Eerstens, erken wat gebeur het en tweedens, aanvaar verantwoordelikheid vir die pyn wat jy veroorsaak het. Om dit te bereik, moet die oortredende party met soveel detail as nodig, twee verklarings maak: ‘n skulderkenning (“Ja ek was by ‘n ander persoon betrokke”) en berou (“Ek verstaan dat ek jou diep seergemaak het en jou vertroue in my vernietig het”). Hierdie twee verklarings dra ‘n kragtige boodskap. Dit vertel die slagoffer dat sy of haar emosies van pyn en verraad werklik en verstaanbaar is.”
Skulderkenning en berou kan ook ’n diep impak op die skuldige hê, sê dr Rosa. “Ware berou verander mense. As jy verantwoordelikheid neem vir die pyn wat jy veroorsaak het, is jy meer geneig om nie weer dieselfde fout te herhaal nie.”
Boublok 3: Volkome eerlikheid en openheid
Die volgende stap is om alles op die tafel te plaas: die volle waarheid, sê dr Rosa. “Genesing kan net plaasvind in ’n klimaat van volkome eerlikheid en openheid. Die slagoffer sal baie vrae aan die oortreder wil stel om die omvang en erns van die oortreding te verstaan. Die oortreder sal ongemaklik, beangs en onseker voel oor die waarheid en dalk probeer om vrae te vermy of vaag te beantwoord. So ’n houding gaan nie die saak ten diepste oplos nie en eerder wantroue verder versterk. Dit verg ’n dapper mens om foute en oortredings te erken. Meestal is dit eers moontlik om sinvol te begin kommunikeer nadat die volle waarheid uitgekom het.”
Dr Rosa sê die partye moet wedersyds ooreenkom dat hulle vanaf daardie oomblik af geen verdere geheime vir mekaar sal hê nie, anders kan hulle nie in diepte en sinvol met mekaar kommunikeer nie. “Die persoon wat die vertrouensbreuk veroorsaak het se volgende taak is om geen verdere leuens te vertel of verskonings te probeer vind vir sy of haar gedrag nie.”
Bettie beaam dit: “Om oop, eerlik en deursigtig te wees, is nou die belangrikste. Jy kan selfs nie eens oor klein goedjies jok nie, want die situasie en die ander persoon is nou besonder sensitief en as jy jok, kan dit jul verhouding verskriklik skaad. Julle moet nou soveel as moontlik kommunikeer en niks oop los vir interpretasie nie.”
Boublok 4: Ruimte en sensitiwiteit
As jy die vertrouensbreuk veroorsaak het, is dit nou uiters belangrik om glad nie selfgesentreerd te wees nie, beklemtoon Bettie, maar eerder op jou maat se behoeftes van die oomblik te konsentreer. “Die vertrouensbreuk is juis daar omdat jy jou eie behoeftes vooropgestel het en die grootste fout wat mense dan maak, is om met hierdie houding voort te gaan. As jou maat dus sê hy of sy het ruimte nodig om deur die situasie te werk, gun hom of haar daardie ruimte, al wil jy graag elke dag 20 boodskappe stuur en hom of haar só probeer terugwen. Of as hy of sy inligting wil hê, gee dit vir hom of haar al voel jy ongemaklik daaroor. Wees ingestel op wat die ander party nodig het en wees sensitief daarvoor, in plaas daarvan om op jou eie gevoelens en persepsies te fokus.”
Boublok 5: Vergifnis
So belangrik soos wat dit is vir die oortreder om skuld te erken en berou te toon, is dit vir die slagoffer om te vergewe, sê dr Rosa. “Vergifnis kan ’n moeisame taak wees. Dis ’n proses, nie ’n eenmalige gebeurtenis nie.”
Dr Rosa onderskei tussen vergewe en vergeet. “Vergeet beteken dat jy letterlik moet ophou onthou wat met jou gebeur het en dis onmoontlik. As jy ‘n belangrike gebeurtenis deurleef het, is dit juis soms goed om te onthou sodat jy ‘n volgende krisis beter kan hanteer.
Vergifnis beteken dat jy die oortreder vir sy of haar daad vergewe. Dit beteken nie dat jy die daad goedkeur nie. Wanneer jy gereed is om te vergewe, kan die stadige proses van genesing begin. Dis ook die tyd waarin enige ander geheime, wat in die pad van groter intimiteit staan, opgeklaar moet word.”
Dr Rosa sê vergifnis is eintlik ‘n gesamentlike daad. “Wanneer die oortreder die skulderkenning en berou van die oortreder aanvaar, sal die oortreder vir die pyn en seer kan om verskoning vra. Só word dit ’n wedersydse daad tussen twee partye.” Sy beklemtoon dat die “oortreder” ook hom- of haarself moet vergewe.
Boublok 6: Bewys verdienstelikheid
Dis noodsaaklik dat die gedrag wat tot die verhoudingsbreuk gelei het, onmiddellik gestaak word en nie weer herhaal word nie. “Om vertroue in te boesem, moet die oortreder betroubaarheid demonstreer en bewys – en nie een maal nie, maar deurlopend sodat vertroue stadig en met verloop van tyd weer opgebou kan word, sê dr Rosa. “Dit is die twee kante van die muntstuk – vertroue aan die een kant kan net herstel word met betroubaarheid aan die ander kant.”
Bettie sê verdienstelike gedrag gaan oor veel meer as net die staak van verkeerde gedrag.
“Geskende vertroue vat tyd om te herstel, en vir daardie tydperk moet die beskadigde verhouding jou prioriteit wees. Dis soos kinders wat siek is. As hulle siek is, kry hulle byna al jou aandag terwyl die ander kinders en dinge minder aandag geniet. Dieselfde geld vir ‘n verhouding wat siek is: As jy dit regtig wil herstel, moet dit vir ‘n tyd jou grootste prioriteit wees, al beteken dit jou lewe is vir hierdie tyd ’n bietjie buite balans. Dit kan later weer na normaal terugkeer as die verhouding gesond is. As vertroue in jou huweliksverhouding geskend is, gaan jy dus nie elke aand tot nege-uur werk nie. Jou vriendskappe gaan ook tweede kom, want jou “siek” verhouding is jou eerste prioriteit. As jy nie bereid is om vir hierdie tyd jou verhouding jou eerste prioriteit te maak nie, is jou verbintenis daartoe dalk nie genoeg nie.”
Bettie sê dieselfde geld vir die beginsels van reg en verkeerd in verhoudings. “Dit gaan nie nou oor reg of verkeerd nie, maar oor wat die beste vir jul verhouding is. Die vraag is: In jul sensitiewe verhouding, gaan dit bou of afbreek? Dis gewoonlik ’n baie maklike vraag om te antwoord. Jy wil dalk net soos normaal met jou lewe aangaan, maar jy moet eers vir ’n tyd vasbyt.”
Boublok 7: Realistiese verwagtinge
Albei partye moet verstaan dat die herstelproses uiters moeilik gaan wees, sê dr Rosa. “Daar gaan tye wees wat die slagoffer kwaad, hartseer en emosioneel (alles tegelyk) gaan wees. Die emosies is ‘n aanduiding van die mate van emosionele pyn wat die slagoffer ervaar. Die oortreder moet erkenning aan hierdie emosies gee en die slagoffer toelaat om hierdie emosies te lug. Dit sal ook help as die oortreder erken dat hy vir die emosionele pyn van die slagoffer verantwoordelik is en iets daaromtrent wil doen. Moenie verdedigend optree nie en moenie die emosionele pyn van die slagoffer minimaliseer nie.”
Aan die ander kant, sê dr Rosa, moet die slagoffer verstaan dat die oortreder nie hom of haar doelbewus wou seermaak nie. “Dikwels verstaan die oortreder nie eens mooi waarom hy of sy by iets betrokke geraak of iets onbehoorliks aangevang het nie. Omdat die oortreder so onduidelik en skaam oor die gedrag is, klink die verduidelikings dikwels leeg en vals. Daarom sal dit nie veel help om te probeer verduidelik of verdedig nie omdat dit na verskonings klink.”
Boublok 8: Doeltreffende kommunikasie
Sou die partye besluit om die verhouding nog ’n kans te gee, moet hulle hul kommunikasie met mekaar verbeter, sê dr Rosa. “As hulle besluit om die verhouding te beëindig, is dit steeds belangrik om eerlik en openlik te kommunikeer ten einde tot ’n redelike ooreenkoms te kom.”
“Die betrokke partye kan deur openhartige, eerlike kommunikasie die foute in hul verhouding begin raaksien en kreatief na oplossings begin soek. So neem elkeen verantwoordelikheid vir sy aandeel aan die verhouding se verbrokkeling en soek hulle saam na oplossings. Hierdeur aanvaar die betrokke partye dat hulle ‘n gesamentlike taak het om te bereik en sal elke paartjie self bepaal watter doelwitte hulle moet bereik om ‘n meer sinvolle verhouding met mekaar te hê. So omskep hulle ‘n lewenskrisis in ‘n geleentheid vir groei.”
’n Koue skouer
Albei partye se samewerking is vir die volkome herstel van ‘n vertrouensverhouding nodig, beklemtoon Bettie. Dit beteken nie jy moet dadelik moed opgee as die ander persoon aanvanklik ongeneë is nie. “As daar aanvanklik teenstand is, kan jy deur jou gedrag en houding te verander, bewys dat jy ’n verandering wil maak. So kan jy die ander persoon se toegeneentheid wen om die keuse te maak om hom- of haarself weer oop te stel vir vertroue. Jy kan die ander party nie dwing om hierdie keuse te maak nie, maar jy kan hom of haar oortuig. As jou maat nie kies om weer te vertrou nie, gaan jy egter nêrens kom nie, want ‘n vertrouensverhouding moet van twee kante kom.”
Die terugwen van verlore vertroue, kan ’n tydsame proses wees, beklemtoon sy. Hoe lank jy moet aanhou probeer om iemand se vertroue terug te wen, sal afhang van hoe belangrik die verhouding vir jou is. “Party mense gaan ’n jaar probeer, ander ‘n maand. Elke mens moet vir homself uitmaak dat hy tevrede is met wat hy ingesit en hoe lank hy probeer het. As jy voel jy het regtig moeite gedoen, sonder sukses, kan jy ten minste vrede hê dat jy jou bes probeer het.”
Rome is nie in een dag gebou nie – dieselfde geld vir vertroue. Byt vas en hou die einddoel in gedagte.