’n Egskeiding is die einde van ’n pad wat jy nooit weer wil loop nie. Of is dit? Dalk oorweeg jy dit later om weer ‘die groot stap’ te neem, hierdie keer met iemand anders
JB Roux
Elize* (47) en haar gewese man was nege jaar getroud en 17 jaar saam. Sy het vier jaar en ses maande ná hul egskeiding weer getrou.
“’n Jaar ná die egskeiding het ek en my eerste man besluit ons trek weer by mekaar in. Ons was nog drie jaar saam, maar ek kon nie meer sy ontrouheid verduur nie. Twee jaar nadat ons finaal uiteen is, het ek my huidige man ontmoet. Ons is drie jaar later getroud.”
Al is sy nou gelukkig, is sy steeds spyt dat haar eerste huwelik nie suksesvol was nie.
“’n Mens wil net een keer trou en saam met jou huweliksmaat oud word en saam mylpale bereik. Ek voel soms hartseer as ek na ander gelukkige paartjies kyk wat nou met hul kleinkinders speel.
“Ek dink nie ’n mens kan aan ’n mislukte huwelik as ’n bedekte seën dink nie. ’n Mens trou tog nie om uit jou foute te leer nie; jy weet aanvanklik nie eens dat jou huwelik ’n fout was nie. Ek het wel baie gou ná my troue geweet dat ek ’n fout gemaak en eerder ’n bietjie moes gewag het. Ek het nogtans deurgedruk, want dit was ‘die regte ding om te doen’. Wat ek wel uit my huwelik geleer het, is dat ek na my ma moes geluister het. Sy het my gewaarsku dat ek te vinnig wou trou. As ek gewag het, sou die verhouding ’n natuurlike dood gesterf het.”
Sal dit beter gaan met die tweede huwelik ?
Sy het al gewonder of haar huidige huwelik net so suksesvol sou wees as sy en haar huidige man mekaar reeds 20 jaar gelede ontmoet het. “Ek glo dit sou.”
Maar hou ’n tweede huwelik, in teenstelling met ’n eerste huwelik, enige bepaalde voordele in?
“Met my tweede huwelik het ek beslis ander verwagtinge gehad. Ek en my tweede man moes byvoorbeeld dieselfde waardes en morele standaarde hê. Met my tweede huwelik was en is ek baie meer daarvan bewus dat ’n mens elke oomblik moet waardeer en geniet. Ek waardeer my man baie meer as met my eerste huwelik; ek is baie bewus van wat hy vir my doen en vir my beteken. Ek kan dié keer makliker die klein jakkalsies oorsien en het ’n baie meer realistiese siening oor wat ’n huwelik alles inhou.
“Hierdie is ook my man se tweede huwelik. Omdat ons albei voorheen getroud was, het ons meer begrip vir mekaar se behoeftes, vrese en emosies. Met my eerste huwelik het my emosies en behoeftes mettertyd nie meer vir my saak gemaak nie. Ek het op ‘auto-pilot’ gefunksioneer om net te kan oorleef.
“Toe ek my tweede man ontmoet, het ek dadelik geweet ek wil die res van my lewe saam met hom deurbring, maar dit was ’n aanpassing om my behoeftes en emosies ten volle vir iemand anders oop te stel. En om van voor af weerloos te wees. Dit het lank geneem en ek het my onbewustelik daarteen verset, miskien om seerkry te vermy. My man het egter deur die skanse wat ek om my opgerig het, gesien. Hy het my weer laat vóél. Ek leer steeds hoe om weerloos te wees en die wete dat ek nou in ’n liefdevolle huwelik met morele ondersteuning is, te waardeer.”
Hoe belangrik is vertroue?
Die één ding wat sy tog uit haar eerste huwelik geleer het, is dat jy en jou huweliksmaat mekaar ten volle moet vertrou. “En praat! Praat! Praat! Laat jouself toe om weerloos te voel en vertrou jou instinkte. Moenie iets doen as dit nie reg voel nie.”
Haar raad vir iemand wat die tweede maal trou, is om vrede met jou verlede te maak – dit sluit jou gewese man in. “Moenie die dinge wat in jou eerste huwelik verkeerd geloop het, by jou tweede huwelik insleep nie. Begin op ’n skoon bladsy. Hou by jou morele standaarde en die aanvanklike verwagtinge wat jy van jou huweliksmaat gehad het.”
Haar man het drie kinders uit sy eerste huwelik. “Wanneer hulle by ons kom kuier, is ek maar net myself. Ek dwing my nie aan hulle op nie en probeer nie om ma te speel nie. Hulle het my so aanvaar. En hulle aanvaar dat ek nou deel van hul pa se lewe is.
“Ek het baie minder inhibisies in my tweede huwelik,” sê sy verder. “Ek is wie ek is.”
Dit bring hoop terug
In haar boek Ek en jy verskil hemelsbreed skryf Louise van Coller, huweliksberader en persoonlikheidsanalis, dat ‘n tweede huwelik vir mense die hoop en bekoring van geluk, vervulling en die herstel van die huwelikseenheid inhou.
“Dit bly maar iets waarsonder ’n mens baie eensaam en alleen kan wees. Juis daarom is dit uiters belangrik om goed te kyk wat dit behels en waar die vangplekke is wat hierdie huwelik kan kompliseer. Te maklik kan ’n mens vanuit ’n spesifieke behoefte en ’n nuwe verliefdheid in ’n huwelik instorm om die ‘gebreekte glas’ heel te maak. Daar is egter wêreldwyd sekere ooreenkomste in tweede huwelike waarna daar met oorleg gekyk moet word in die strewe na sukses.
Wat sê die statistieke oor tweede huwelikke?
“Ongelukkig is statistieke ook teen die tweede huwelik en is dit oor en oor bewys dat die tweede huwelik se suksessyfer nog laer as die eerste huwelik is en vir die derde huwelik nog slegter.
“Na raming is slegs die helfte van eerste huwelike suksesvol,” sê Louise. “Met tweede en derde huwelike is dit 25%. Die rede hiervoor is dat daar met tweede huwelike dikwels kinders uit vorige huwelike is. Dis moeilik om aan so ’n situasie gewoond te raak en dit veroorsaak konflik en komplikasies. Dit kan die paartjie se liefde vir mekaar laat kwyn en die huwelik te maklik vernietig.
“’n Ander faktor is dat dit soms eenvoudig makliker is om te skei as jy dit reeds voorheen gedoen het. Dis makliker vir iemand om te dink:‘Dit gaan nou slegter as met my eerste huwelik en ek hoef dit nie te verduur nie – ek wil liewer alleen wees en in vrede leef.’
“So ’n paartjie aanvaar dikwels dat hulle huwelik ’n fout was en dat hulle liewer uiteen moet gaan. ’n Tweede egskeiding is gewoonlik makliker as die eerste keer.”
Hoe lank moet mens wag voor jy weer trou?
Dis nie maklik om te sê presies hoe lank ná ’n egskeiding dit raadsaam is vir iemand om weer te trou nie.
“Dit verskil van mens tot mens, maar wanneer iemand ná ’n egskeiding ’n pad saam met ’n berader of terapeut loop, vergemaklik dit die ‘rouproses’.
“Ná ’n egskeiding moet jy aan jou eie karakter werk en jou eie skuld en dié van jou voormalige eggenoot erken en verwerk. Nadat jy jou hartseer, woede, haat en verwerping verwerk het en waarlik kan vergewe en die bitterheid begin verbygaan, is jy gereed om weer ’n verhouding te oorweeg. Om weer die ‘dating game’ te betree, is egter vreemd en kan intimiderend en selfs gevaarlik wees. Neem tyd om dit weer te leer ken. ’n Tweede troue is gevaarlik as ’n mens te vinnig trou om die gaping in jou hart te vul en die eensaamheid of hartseer te veel raak om alleen te dra.
En die kinders?
“Die grootste probleem met tweede huwelike bly maar die kwessie van kinders. ’n Mens trou nie met ’n individu nie, jy trou met ’n gesin en soms sluit dit ’n gewese man of vrou in. Elke gesin het ’n eie stel waardes en dissiplinestelsel. Waar twee gesinne saamgevoeg word en die stelsels verskil, sal die kinders sukkel om aan te pas en in te pas. Dis die ouers wat besluit het om te trou; die kinders het gewoonlik geen keuse nie. Dis hoekom die kinders dikwels rebelleer.
“Verder sukkel die kinders steeds met die hartseer van hul ouers se egskeiding en die rouproses en dit is moeilik om iemand anders in Ma of Pa se plek toe te laat. Hulle is kwaad vir die wêreld en die omstandighede waarin hulle hulself bevind en haal dit dikwels op hul ouers én stiefouers uit. As die ‘nuwe’ huwelikspaar nie saamstaan en hul huwelik eerste plaas nie, mag dit die einde van hul huwelik en die geluk waarna hulle streef, beteken.”
Watter voordele hou ‘n tweede huwelik in?
Volgens Louise hou tweede huwelike nie spesifieke voordele in wat by eerste huwelike ontbreek nie. “Met ’n eerste huwelik is mense gewoonlik jonk en onervare en hulle is nog nie heeltemal as volwassenes ‘gevorm’ nie. Wanneer iemand vir ’n tweede of derde maal trou, is hulle ouer en minder aanpasbaar. Hulle sal nie maklik aan hulle laat ‘skaaf’ nie.
“Met ’n tweede huwelik is die huwelikspaar ouer en die redes hoekom hulle op ’n spesifieke maat verlief geraak het, verskil gewoonlik van die eerste keer. Hulle is eensaam of desperaat, hartseer of seksueel gefrustreerd. Soms kies hulle doelbewus iemand wat heeltemal anders as hul eerste huweliksmaat is, dan is hulle teleurgesteld as die ‘nuwe’ huweliksmaat ook nie by hulle ‘pas’ nie.
“Partykeer trou iemand weer omdat hulle hulp wil hê met die grootmaak van sy of haar kinders, of omdat hulle finansiële sekuriteit nodig het. Maak baie seker van jou saak. Dis beslis nie nou die tyd om oorhaastige besluite te neem nie en niemand wil ’n tweede maal die hartseer van ’n egskeiding beleef nie.”
Louise sal geskeides wat weer wil trou, aanbeveel om met ’n huweliksberader te gesels om hulle op die realiteite te help voorberei en op moontlike slaggate te wys. “Ek sal ook persoonlikheidsanalise aanbeveel sodat ’n paartjie voor die huwelik reeds mekaar se ware persoonlikhede kan leer ken en presies weet wat om te verwag en waaroor hulle in die toekoms kan verskil.”
*Skuilnaam