Voel dit vir jou asof jy meer onsigbaar word soos jy ouer word? Anne Marais stel ondersoek in
Wenke vir ouer mense om selfgeldend op te tree
Is jy ‘n ouerwordende persoon wat al hoe meer onsigbaar voel namate jy ouer word? Lees gerus dié week in Vrouekeur meer oor die ouderdom en sogenaamde onsigbaarheid. Ons kenners gee die volgende raad om jouself te handhaaf namate jy ouer word:
Tini Visser, ‘n voorligtingsielkundige: Moenie jou waardevolle ervaring misken nie. Vind uit waar jou kennis benodig word. Sommige mense tree as deeltydse konsultante op in die bedryf waar hulle werksaam was. Die bydrae wat jy lewer, kan jou selfbeeld bou. Meld by vrywilligersorgansisasies aan. Moenie bang wees om ‘n stereotipe uit te daag nie. Ouer mense word veral deur winkelassistente verkleineer as hulle in verkleinwoordjies begin praat. “Het tannie ‘n nommertjie?” Daag die persoon uit en vra om met respek behandel te word.
Riette du Preez, ‘n kliniese sielkundige: Dit is van kritiese belang om iets te kry wat vir jou betekenis en ‘n doel in die lewe gee. Moet dit nie noodwendig aan geld meet nie. Vir elke mens sal dit iets unieks wees waaruit hy of sy betekenis put. Dit is baie algemeen om ná aftrede of wanneer jou lewensomstandighede as gevolg van ouderdom verander, ‘n identiteits- of eksistensiële krisis te beleef. Dit lei daartoe dat jy bevraagteken wat jou doel is en nadink oor wat jy in die lewe bereik het. Die gevolg hiervan is dikwels depressie of angs en ongelukkig beteken dit dat ‘n mens dan minder lus of motivering het om iets te doen. My aanbeveling is om so gou moontlik werk te maak daarvan deur met ‘n geliefde daaroor te praat en professionele hulp te kry en sodoende deur die krisis te werk.
Annemien Bauermeister, ‘n berader: Gebruik die media – skryf artikels oor hoe jy die wêreld sien.
Annemien Bauermeister [email protected]
Tini Visser [email protected]
Riette du Preez [email protected] of www.memorycare.co.za