Bistro 13 word een jaar oud en vier met nuwe somerspyskaart
Maryke Roberts
Die glanssjef van Kokkedoor-faam, Nic van Wyk, se Bistro 13, op die Welmoed Wynplaas, tuiste van Stellenbosch Vineyards, het onlangs sy eerste verjaardag gevier. Om die vieringe nog verder te laat aanhou, is daar nuwe openingsure vir die lekkerbek-restaurant en ‘n lekker somerspyskaart pas bekendstel. Die restaurant bied nou sewe dae per week middag- en aandete en ontbyte oor naweke.
Die nuwe spyskaart is onlangs aan die media bekendgestel en die luilekkerte van patio-sit met ‘n uitsig oor die berge, terwyl jy teug aan heerlike wyne en kos, was glad nie te versmaai nie.
Roxy Laker, mede-eienaar, sê sedert die opening laat in 2014 is meer as 25 500 gaste al daar onthaal. “Baie van hulle het nou gereelde gaste geword en ons is trots om te sê dat ons ook al verjaardae, ‘n wyntoekenningsfunksie, klein konferensies en ‘n laat ontbyt vir 300 mense aangebied het.”
Bistro 13 is ook opgeneem in die jaarlikse Eat Out restaurant-gids, iets waaroor Nic baie dankbaar is, want hy vertel dat kwaliteit hul wagwoord is.
Op die nuwe somerspyskaart kan gaste uitsien na gerookte makriel met gepekelde vinkel, geroosterde aspersies en truffel hollandaise, komyn-geroosterde varklies en die steak tartare is terug op publieke aanvraag.
Jy kan ook uitsien na lekker sjokolade terrine en rum baba met sultana-roomys, en ander seisoenale vars disse.
Die wynlys, wat wyne van Stellenbosch Vineyards by die glas en bottel bedien, maar ook wyne van ander wynplase insluit, spog ook met ‘n nuwe baadjie.
Die proelokaal by Welmoed spog nou ook met ‘n nuwe proe-spyskaart met kaasborde, ligte versnaperinge en jy kan selfs neut-en-wyn pasmaats probeer.
Op 18 Februarie is daar ‘n spesiale aandete met die sportsterre AB Villiers en Faf du Plessis.
Bistro 13 is op Welmoed Wynplaas, R310 Baden Powell Drive, Stellenbosch. Bespreek by (021) 881- 3044, [email protected] of volg hulle op Twitter: @Bistro_13
Die steak tartare is altyd ‘n gunsteling.
SOURCES
Clifford Roberts
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.