Leeu Estates, die eksklusiewe vyfster boetiek-gastehuis met 17 luukse kamers en suites op Franschhoek, het verlede week sy deure vir gaste geopen.
Maryke Roberts
Die gastehuis, wynkelder, spa, wingerde en tuine wat deur die landskap-argitek, Franchesca Watson ontwerp is, is tussen 68 hektaar geleë met ‘n asemrowende uitsig oor die Franschhoek-vallei.
Leeu Estates het eg gebly aan sy besigheidsfilosofie, naamlik inspirerende kunsversamelings; eiesoortige argitektuur en gesofistikeerde ontwerp; detailtuine wat respek vir die omgewing uitbeeld; ongeëwenaarde diens met aandag aan die fynste besonderhede; en ‘n bekroonde wynportefeulje.
“Dit het begin as ‘n persoonlike reis vir my,” het Leeu Estates se stigter, Analjit Singh (aka BAS), internasionale belegger, aan gaste vertel. Bekoor deur die Wes-Kaap se natuurskoon en lewendige energie gedurende ‘nbesoek aan Suid-Afrika tydens die 2010 FIFA Sokker Wêreldbeker, het hy besluit om ‘n huis in die Franschhoek-vallei aan te skaf. Die idee van ‘n huis het egter gou verander in wat dit vandag is – drie historiese plase saamgesnoer vir ‘n wêreldgehalte bestemming in wyn en gasvryheid.
Die fokus van hierdie werkende wynplaas is die gerestoureerde 19de eeuse herehuis. Die kontemporêre kamers en suites bied uitgesoekte kunswerke sorgsaam gekies asook beelde van verskeie lande, luukse ekstras en pragtige volledig toegeruste marmerbadkamers. Meeste suites het hul eie terrasse en kaggels en elkeen bied ‘n asemrowende uitsig oor die wingerd en berge.
Die kos by Leeu Estates is die handewerk van die uitvoerende sjef, Oliver Cattermole. By Leeu Estates word die kos en Suid-Afrikaanse oesjare vanuit Leeu Collection se kelder voorgesit in The Dining Room of buite by die Garden Terrace. Besoekers van buite is ook welkom om tafels te bespreek. Die Wine Studio bied gaste premium wyn van die bekroonde Mullineux & Leeu Family Wines.
Die Leeu Collection-portefeulje bestaan tans uit drie vyfster boetiek-eiendomme in Franschhoek: Leeu Estates, Leeu House, ‘n 12-suite hotel en Le Quartier Français, die 21-suite hotel, waar die bekroonde uitvoerende sjef Margot Janse aan die stuur is van Le Quartier se restaurant, The Tasting Room. Ook deel van die Leeu Collection is Tuk Tuk, ‘n mikro bierbrouery in vennootskap met die bekroonde Cape Brewing Company en ‘n eksotiese nuwe eetplek (wat later vanjaar oopmaak) en die tuiste van Marigold, die vallei se eerste Indiese restaurant.
Een van die rustige klassieke kamers.
Hector de Galard, besturende direkteur van Leeu Collection, by BAS Singh, Leeu Estates se stigter.
Die egpaar, Chris en Andrea Mullineux is die wynmaak-span agter die bekroonde wyne Mullineux & Leeu Family Wines.
Die premium wyn van die bekroonde Mullineux & Leeu Family Wines.
SOURCES
Clifford Roberts
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.