Die nuwe somerspyskaart by The Dining Room at Leeu Estates buite Franschhoek is onlangs bekend gestel
Deur Maryke Roberts
Foto’s Clifford Roberts en verskaf
Smulpape het die voorreg gehad om ’n kykie en proe te ervaar. Die spyskaart is die handewerk van die Oliver Cattermole, die uitvoerende sjef van die Leeu Collection, en sal seisoenaal verander om die varsste produkte te gebruik.
Die spyskaart sluit ontbyt, middagete en aandete in en hoewel die disse ’n tradisionele streep het, is dit innoverende kookkuns. En as jy nog ’n gaatjie sou hê, is daar ook die heerlike namiddagtee met soet en sout wat jou wil verlei.
Die nuwe spyskaart spog met canapés soos murgpampoentjieskyfies en doopsous, gerookte bees “potjie”, geklopte Stellenbosch cheddar gougères en gepekelde uittjies. Vir voorgereg is daar gekuurde vis, groente escabeche en fynbos vinaigrette of somer waatlemoen met Geometric gin, geklopte feta en tuisgemaakte spek.
LEES OOK:Klein bordjies by Makaron Restaurant bekendgestel
Hoofgereg het onder meer Karoo lamskilpadjie met somer-ertjies en boontjies, botter-aartappel en lamssous. Daar is ook ’n vis en vegetariese opsie. Vir die tafel is daar slaaie, gepekelde uitjies, truffel en Parmesaanskyfies. Nagereg is grenadella soufflé met wit sjokoladeroomys of Valrhona sjokolade fondant met rum en rosyntjie roomys en kakao krummels.
Selfs die broodmandjie met sy drie gerookte en ander gegeurde botters, is watertand en die wyne word perfek daarmee gepasmaat. Gaste kan kies uit ’n twee- of driegang opsie en tussendeur stuur Ollie allerhande klein verrassings uit die kombuis.
The Leeu Collection bestaan uit drie vyfster eiendomme, Leeu Estates, ’n pragtige hotel en boetiekwynkelder net buite Franschhoek valley; Leeu House, ’n boetiekhotel in die hoofstraat van die dorp en Le Quartier Français, ’n hotel en drie slaapkamer villa, ook in die dorp. Dit behoort aan Analjit (BAS) Singh en die eiendomme het hul naam te danke aan sy naam: in Sanskrit beteken Singh leeu. BAS is ook ’n vennoot in die bekroonde Mullineux & Leeu Family Wines.
Die tweegang opsie kos R375 per persoon en die driegang R575. Bespreek by [email protected] of 021 492 2220.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.