Namola is ’n Suid-Afrikaanse toep en staan ook as “Uber vir SAPD en nooddienste” bekend en is nou beskikbaar
Namola is ‘n gratis misdaadreaksietoep wat gebruikers in staat stel om hul GPS-koördinate, naam en aard van die noodgeval by ‘n 24/7-reaksie-inbelsentrum aan te meld. In noodgevalle word die polisie en ander noodreaksiedienste ontbied. Die GPS-tegnologie van Namola bepaal jou ligging sodat die polisie jou vinniger kan bereik.
Dialdirect Insurance en SABC3 is twee vennote van Namola. Volgens Yusuf Abramjee, misdaad-aktivis en Namola se hoofambassadeur, is Namola aanvanklik as ‘n ‘Uber vir die polisie’ in Tshwane en later ook wyer in Gauteng, in werking gestel. Dit bied aan slagoffers van misdaad toegang tot ‘n nuwe, innoverende manier om die polisie te kontak en het tans meer as 80 000 geregistreerde gebruikers.
Namola verbeter doeltreffendheid en verlig die druk wat op 10111-sentrums geplaas word deur noodseine vooraf na te gaan. Dit identifiseer ook die gebruikers se presiese ligging, wat dit maklik maak vir nooddienste om hulle op te spoor. Met die “request assistance”-knoppie kies jy watter soort hulp jy nodig het en dit sluit onder meer bystand in ‘n mediese noodgeval in. In die geval van ‘n misdaad sal ‘n opgeleide operateur by die beheersentrum die besonderhede van die voorval verifieer voordat die betrokke nooddienste uitgestuur word om bystand te verleen.
Volgens Warwick Scott-Rodger, uitvoerende hoof van Dialdirect Insurance, is Namola ‘n slim toevoeging tot 10111. Jou oproep sal altyd beantwoord word en die inligting sal na die naaste polisiekantoor herlei word. Namola waarborg nie dat die polisie betyds sal wees nie, maar dit verhoog jou kanse om hulp te kry drasties.
“As ‘n uitsaaier wat burgers met trots eerste stel, is die oproep om misdaad te bekamp en ons gemeenskappe met doeltreffende misdaadaanmeldingskanale te help, een van ons hoofprioriteite. Ons het almal ‘n groot rol om te speel om misdaad te beveg en deur SABC3 hoop ons dat die SABC ‘n reusebydrae sal lewer om die woord oor Namola aan Suid-Afrikaners te versprei en hoe hulle daaruit voordeel kan trek”, sê SABC se waarnemende CEO, Nomsa Philiso.
In sy eerste State of the Province-rede, het die Gauteng-premier, David Makhura, op die gebruik van tegnologie in die stryd teen misdaad gesinspeel.
In reaksie hierop het die Gautengse LUR vir Gemeenskapsveiligheid, Sizakele Nkosi-Malobane, gesê dat sy opgewonde is oor die nasionale implementering van Namola en dat ‘n proeflopie die doeltreffendheid van die stelsel bewys het en die reaksietyd op misdaadvoorvalle en noodoproepe beslis verbeter.
Scott-Rodger sê verder: “Met toekomsplanne om misdaadkolle te bepaal en proaktiewe veiligheidswenke en inligting aan gemeenskapslede te gee, is Namola meer as net ‘n toep. Dit is ‘n platform vir Suid-Afrikaners om saam te staan. Vir Dialdirect is dit net nog ‘n manier waarop ons tegnologie inspan om die lewe makliker, beter en veiliger te maak.”
Peter Matthaei van Namola sê: “Namola is een van die grootste deurbrake in jare in Suid-Afrika se stryd teen misdaad. Die manier waarop ons nooddienste ontbied, betree uiteindelik die 21ste eeu.”
Scott-Rodger sluit af: “Soos die hoeveelheid geregistreerde gebruikers op Namola toeneem, is daar ook ‘n toename in die mag wat Suid-Afrika het om verandering binne ons polisie- en nooddienste teweeg te bring.”