Bonnievale Wyne lui ’n nuwe era in met die bekendstelling van ’n nuwe korporatiewe identiteit én ’n premium wynreeks
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts
Met die wyne, The River Collection, vervolmaak die wynmaker die kuns om wyne te maak, wat hul herkoms gedenk.
Gaste is na Bonnievale in die Breederiviervallei genooi om die luisterryke geleentheid te vier en ook die nuwe wyne te proe.
Bonnievale Wyne se tuiste is ’n vallei met wingerde, vrugteboorde en velde, wat deur die sentrale aar gevoed word, wat The River Collection inspireer het.
Die rivier het oor millennia die vallei gevorm en voed nie net die wingerde nie, maar dra ook by tot die wyne se unieke karakter.
“Die rivier is die rede vir ons bestaan. Dis die kern en hartklop van ons wyne,” sê John Barnardt, Bonnievale se HUB. “Daarom is The River Collection die hart van dit wat ons aanbied – ’n premium keur uit dit wat nou ons primêre fokus is.”
“Ons streef na 2 miljoen liter wyn in 2023, wat ’n 10 % groei van ons huidige produksie sal beteken,” het hy vertel. Elke bottel se etiket spog ook nou met die woorde: “Made in the Bonnievale valley”.
John het aan gaste vertel dat die kelder meer as 100 produsente het en hulle net druiwe aanvaar van produsente wat gesertifiseerde wingerdboupraktyke toepas.
Die vrystelling van The River Collection is die eerste tree in ’n opwindende transformasie, wat by Bonnievale Wyne onderweg is. Deel van die nuwe reis is die onlangse aanstelling van ’n strategiese handelsmerk-adviseur; die gerespekteerde wynbedryf-spesialis, Carina Gous. Sy het op ’n plaas in die Keisievallei naby Montagu grootgeword en het ’n spesiale band met die groter Breederivier-vallei.
Die kelderbestuur is ook tans in die proses om ’n beloningstelsel vir produsente van stapel te stuur.
Alhoewel sy geskiedenis meer as ’n halfeeu terugstrek, het Bonnievale Wyne in 2016 sy 10de verjaardag gevier. Dit is op 1 November 2006 amptelik gestig, deur die samesmelting van die Bonnievale-, Merwespont- en Nordale koöperatiewe kelders, in ’n mylpaal wat gereken word as een van die eerste in sy soort vir Suid-Afrikaanse landbou. John Barnardt het sedert sy ontstaan die onderneming tot groot hoogtes gelei en dié reis gaan steeds voort.
Die wynkelder se nuwe wapen verteenwoordig die vermenging van sy erfenis met die unieke plek vanwaar sy wyne kom. Die ontwerp is deur Bravo – Grand Prix-wenner van vanjaar se Winemag wyn-etiket ontwerp-kampioenskap – onderneem.
Die Bonnievale wynmaak-span word deur Marthinus Rademeyer gelei, wat in Desember 2009 by die kelder aangesluit het. Sy wynmaak-kollegas is Eddie Mathambo, Jean Slabber en Izak de Vries.
Onder hul bekwame hande sal The River Collection uiteindelik ’n diverse reeks wees, wat tans bestaan uit ’n Sauvignon Blanc, Chardonnay, Chenin blanc en droë Cinsault Rosé. Rooiwyne sal later vanjaar bygevoeg word, wanneer die 2017-oesjaar vrygestel word.
The River Collection-wyne word tans vir R57 elk by die kelderdeur verkoop. Dis binnekort ook beskikbaar by voorste handelaars landswyd, waaronder Tops @ Spar en Food Lover’s Market.