Suid-Afrika se segsgroep vir Sauvignon Blanc – een van die land se mees aangeplante druifvariëteite – het ’n transformasie ondergaan
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts
Die voormalige Sauvignon Blanc Belangegroep (SBBG), het by ’n funksie in Kaapstad op die vooraand van Internasionale Sauvignon Blanc Dag op 3 Mei, nie net sy nuwe naam as Sauvignon Blanc SA aangekondig nie, maar ’n hele gros veranderinge verklap.
Die organisasie is aanvanklik gestig om uitmuntendheid aan te moedig en die kultivar te bevorder en het onder meer ’n nuwe bemarking- en ondersteuning agentskap aangestel; sy webwerf her-ontwerp en die hulp van ’n bekende kundige ingeroep om sy kennis-sentrum te verbreed, het die voorsitter van Sauvignon Blanc SA, RJ Botha, aan gaste by ’n middagete by die bekroonde restaurant, Janse & Co vertel. “Dié verandering is al lank op die horison. Die vorige benaming as SBBG het nie ons boodskap sterk genoeg beklemtoon nie. Nou sal enigeen in die wêreld weet waarvoor ons staan én waar ons vandaan kom.”
Sauvignon Blanc is die derde grootste witdruif-aanplanting in die Kaapse wynlande en een van die grootste in die Nuwe Wêreld wynlande. Sauvignon Blanc SA is met hierdie inligting as agtergrond gestig, om Suid-Afrikaanse Sauvignon Blanc se kwaliteit plaaslik en internasionaal te bevorder. Hy het interessante statistiek gegee: elke tweede bottel witdruif-variëteit wat in Suid-Afrika verkoop word, is Sauvignon Blanc; 18% hiervan verkoop in die ultra premium prysklas van meer as R120 per bottel; dis ses maal meer as Chenin Blanc; drie maal meer as Chardonnay en drie maal meer as Cabernet Sauvignon. “Ons is nou gereed om saam met die groot honde te baljaar,” het hy met ’n trotse glimlag vertel.
Die belangegroep se hergeboorte op Internasionale #SauvBlancDay – tradisioneel die eerste Vrydag in Mei – verleen gravitas aan die geleentheid. Die organisasie het ook aangekondig dat Agri-Expo, die gevestigde landbousektor promosie- en bemarkingsmaatskappy, voortaan die daaglikse bestuur oorneem. Die herontwerpte webwerf, www.sauvignonblanc.com, is ook by die middagete bekend gestel. Van die lede se nuwe voordele is toegang tot die kenner-insigte van Dr. Carien Coetzee, wat ’n reeks eksklusiewe tegniese verslae gaan skryf. Bo en behalwe haar PhD Agric Wynkunde van die Stellenbosch Universiteit, sluit haar ervaring deelname in aan die International Sauvignon Blanc Celebration in Nieu-Seeland en diens op die proepaneel vir die Concours Mondial internasionale wynkompetisie. Sy was een van die sprekers by die middagete.
Die huidige Sauvignon Blanc SA komiteelede is: voorsitter RJ Botha (Kleine Zalze Wynlandgoed), ondervoorsitter Thys Louw (Diemersdal Landgoed), Carien Coetzee (BasicWine.co.za), JD Pretorius (Warwick Wynlandgoed), Lukas Wentzel (Groote Post Wingerde), CP Conradie (Conradie Penhill ArtisanaleWyne), Emul Ross (Hamilton Russel Wingerde) en Daniel Keulder (Nitida Wynplaas).