Ná ons suksesvolle Kersmarktoer in Desember 2016 saam met Seagull-toere is dit tyd om die volgende reis te beplan, hierdie keer vir ‘n reis van 2–18 Julie 2017 na Roemenië
Ons vertrek vanaf OR Tambo en arriveer die volgende dag in Boekarest. Ná ontbyt die volgende dag begin die toer van Boekarest, wat onder meer die triomfboog, die parlementspaleis, Charles de Gaulle-plein en veel meer insluit.
Dan pak ons die mooiste pad in die wêreld aan, die Transfagarsanpad wat ´n hoogte van meer as 2 000 meter bereik! Op pad besoek ons die Curtea de Arge-katedraal. Ons kry ook prins Vlad Dracula se kasteel te siene. Die hoogtepunt van die dag is die Balea-gletsermeer, waar ons middagete geniet. Dan sit ons af na Sibiu, waar ons die museum van ikone op glas besoek en die tradisionele plattelandse lewe en kos leer ken.
Op dag vyf pak ons ‘n stadtoer van Sibiu aan, waar ons onder meer ‘n paar kerke besoek. Dan ry ons na Sighisoara en besoek die Biertan-vesting, ‘n majestueuse kerk in Transsilvanië. Verken Sighisoara verder en geniet dalk middagete in die huis waar Dracula gebore is,.
Die volgende dag ontdek ons die Middeleeuse sitadel van Sighisoara met verskeie hoogtepunte. Dag sewe is noordelike Roemenië aan die beurt en ons ry na Sapanta en besoek ‘n houtkerk. Ons besoek die gedenkmuseum daar.
Ná ontbyt die volgende oggend verken ons die Maramures-gebied en besoek die bekende Barsana-houtklooster. Op dag nege besoek ons die Moldawiese geverfde kloosters.
Ons reis na die Rooimeer-oord en stop by die Neamt-klooster wat deur ou woude omring word. Ons vertoef dan in Piatra Neamt-stad en ry dan na Bicaz-kloof.
Dan vertrek ons na Brasov, besoek die verskanste kerk in Prejmer waarna ons middagete in ‘n tradisionele restaurant kan geniet. Aandete is by die Cerbul Carpatin-restaurant met ‘n folkmusiekvertoning en wynproe.
Ons bring die oggend in Brasov deur en besoek besienswaardighede. Ons loer by ‘n ski-oord in vir middagete en ons geniet ‘n kabelkarrit met asemrowende uitsigte.
Ons kan die bekende Bran-kasteel (bekend as Dracula se kasteel) besigtig. Geniet inkopies voor ons na Sinaia vertrek.
Die volgende oggend doen ons ‘n stadstoer van Sinaïa. Dan ry ons na Tulcea, waar ons middagete geniet. Ons arriveer die aand by die hotel en geniet aandete.
Ons kry koers na die Donoudelta en verlustig ons in die fauna en flora. Ná middagete vertrek ons na Boekarest en geniet ons afskeidsete.
Verken die stad op jou eie op die laaste dag en vertrek dan na die lughawe. Op 18 Julie is ons weer in Johannesburg.
WAT KOS DIT?
Landreëlings: 1 895* euro per persoon wat deel (bereken op ‘n minimum van 15 toerlede), met ‘n bykomende tarief van 480 euro* vir ‘n enkelkamer, plus ‘n vliegkaartjie van R4 920* per persoon.
INGESLUIT
- Retoervliegkaartjies in ekonomiese klas.
- Verblyf in vier- en vyfsterhotelle.
- Ontbyt en aandete daagliks en middagete op dag 16.
- Luukse busvervoer
- Alle toegangsgelde
- Engelssprekende gids
UITGESLUIT
- Binnelandse vlugte in Suid-Afrika
- Lughawebelasting: R8 200*
- Reisversekering: R950*
- Schengenvisum: 65 euro per persoon (direk by die konsulaat)
- Fooitjies: 150 euro
- Alle persoonlike artikels
‘n Deposito van R5 000 asook ‘n voltooide besprekingsvorm verseker jou plek. Deelname aan die toer is op ‘n “eerste daar, eerste klaar”-grondslag. Die volle balans van die toerprys is twee maande voor vertrek betaalbaar.
Kredietkaartbesprekings net vir internasionale vlugte en lughawebelasting.
*Beraamde koste, onderworpe aan die wisselkoers