Die eiland Phuket in Thailand is veral vanweë bekostigbare pakkette deesdae ‘n gewilde vakansiebestemming onder Suid-Afrikaners. Jackie Pienaar-Brink deel ‘n bietjie algemene inligting.
- Phuket is die grootste eiland van Thailand en is nagenoeg 50 km lank en 20 km breed. Dit het net minder as 600 000 inwoners. Die Thaise naam is Koh Hay (met verskillende variasies op hierdie spelling).
- Min inwoners is Engels behoorlik magtig.
- Soos in die res van Thailand, is die meeste inwoners Boeddhiste. Die aantal Moslems in Phuket word op 20% geskat.
- Een van die groot toeriste-aantrekkings is die 45 m hoë Big Buddha op die kruin van ‘n berg naby die dorpie Phuket. Die buitekant is wit Burmese marmer en binne is dit steeds in aanbou. Teen nagenoeg R150 kan jy jou naam en/of ‘n boodskap op ‘n klein stukkie marmer skryf wat in die bouwerk gebruik sal word en help om dit te finansier.
- In Phuket is basies net twee seisoene ter sprake: nat van Mei tot Oktober, wanneer tropiese reënstorms met gepaardgaande donderweer binne letterlik sekondes kan losbars, en droog die res van die jaar. Hoogseisoen is van November tot Februarie. Van Maart tot vroeg Mei is dit die warmste.
- Toeriste word in groot getalle op dagbesoeke na die eilande gebring, wat die owerhede noop om die eilande met tye vir besoeke te sluit om die skade te beperk.
- Die tsoenami van 2004 het Phuket ook hard getref, hoewel daar in plaaslike kringe aangevoer word dat die buitelandse media die sterftesyfer erg oordryf het en dat minder as 300 inwoners en toeriste omgekom het. Hoe dit ook al sy, ‘n bord naby die beskutte baatjie Ao Sane suid van Kata – waarop ‘n tsoenami-ontsnappingsroete aangedui word – was die enigste verwysing na tsoenami’s wat ons in ons agt dae in Phuket teëgekom het.
Besoek www.phuket.com vir meer inligting