’n Paar vrae aan dr Hannelie Groenewald, wie se gesin deur drie selfmoord-bomdraers in Kaboel, Afghanistan vermoor is. Haar boek, Terreur in Kaboel, het by Lux Verbi verskyn:
1. Het jou dokters-opleiding en werk met siek mense ’n rol gespeel in die manier hoe jy met jou eie trauma kon saamleef en dit verwerk?
Ek het myself voorgeneem om altyd in beheer van die situasie te bly en nie emosioneel te raak voor mense nie. My mediese opleiding het my daarmee gehelp. Maar die verwerking daarvan is persoonlik vir elkeen wat rou, en my verwerkingsproses het eintlik begin met die skryf van die boek, toe ek moes gaan sit en elke emosie en sintuiglike waarneming en ervaring in elke situasie moes verwoord.
2. Hoe het jou ervaring in Kaboel jou manier van “dokter-wees” nou beïnvloed?
Ek is baie meer gerig daarop om die wortel van die kwaad te soek, wat baie keer nie fisies is nie. Mense kom baie keer met klagtes maar eintlik soek hulle net ’n oor wat sal luister en iemand wat kan raad of perspektief gee. En die perspektief wat ek gee, is van ’n Christelike aard.
My voorskrifte is ook baie keer heelwat goedkoper as die normale omdat ek verkies om nie siektetoestande met die nuutste en duurste medikasie op die mark te behandel nie. Die ekonomie druk almal hard. Mediese fondse trek swaar. Om brandarm Afgane te kon dokter met net die essensiele lys van medikasie van die WHO tot my beskikking, het my geleer om meer te fokus op die goedkoper generiese medikasie.
3. As jy terugkyk, is jy spyt julle is Kaboel toe?
Nee, glad nie. Ek sou nie die mens gewees het wat ek vandag is, as ek nie deur die vuurproef gegaan het nie. God laat beproewinge toe en gebruik dit om ons karakter te vorm om meer soos Jesus te lyk. Ek het God se ware karakter leer ken in die oog van die storm, en ek weet ek sou nie die verhouding met hom gehad het wat ek vandag het, as ek in my gemaksone in SA gebly het nie. My lewensperspektief het verander. Waar die lewe voorheen oor my en my gesin gegaan het, weet ek dat dit gaan eintlik oor God.
4. Dink jy met jou boek op die rakke, die storie is klaar vertel?
Ja, ek het gepoog om te wys dat die vorige siklus van ’n lewe in Afganistan saam met my gesin afgesluit is, en dat daar ’n splinternuwe lewe in ’n nuwe siklus vir my begin het. Ek moes deur die siklus van rou, heling en om ’n nuwe lewensdoel te soek en vind gaan, om die storie volledig te kon vertel.
5. Wat hoop jy vir hierdie boek?
Sonder twyfel wil ek mense God se perspektief op die prentjie van hul eie lewens gee. Ek hoop dat mense tussen die lyne van ons tragiese verhaal hul eie pyn en seer sal identifiseer en dat hulle hom sal toelaat om op wonderwerkende maniere in hul eie lewens te werk en vir hulle veral hoop vir die toekoms sal gee en ’n verwagting dat die lewe mooi en geseënd is.
6. Hoe het hierdie ervaring jou as mens verander?
My lewensbeskouing het verander. Ons weet nie wat ons mȏre is of het nie. Alles wat ek is, doen ek in totale afhanklikheid van God.
7. Wat is die een lewensles wat jy uit jou tyd in Kaboel geleer het?
Elke besluit in ons lewe het ’n prys-etiket. Om Jesus heelhartig te volg, kos ’n prys; die prys van vervolging.
8. Is jy bang jy is dalk nog ’n Taliban-teiken?
Ek glo nie die Afghaanse regering sal ooit weer vir my ‘n visum toestaan om die land binne te gaan nie. Maar ek glo nie die Taliban sal my nou meer teiken nie, altans, ek hoop nie so nie.
9. Wat is die belangrikste boodskap wat jy van Werner geleer het, wat jy elke dag met jou saamdra?
“Jy kan alles verloor in hierdie lewe, maar jy het altyd vir God, en niemand kan dit ooit van jou af wegneem nie.”