VUIL WASGOED, wat onlangs by die kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai weggestap het met vyf toekennings, word op 8 Desember 2017 landswyd in teaters vrygestel.
Kyk die lokprent hier:
In ’n eenvoudige wassery in ’n ondergemiddelde woonbuurt, is Wim en Kevin besig om ander mense se vuil wasgoed te was, droog te maak en te stryk.
Bedags is hul werk saai, maar snags bied dit vir hulle ’n uitsonderlike geleentheid. Hulle ‘leen’ hul kliënte se klere, hou snags partytjie daarin, was dit vinnig die volgende oggend en gee dit terug aan hul kliënte. Dis eenvoudig, dit werk en dit was lekker die eerste 52 keer. Maar, hulle word 30 en die pret word stelselmatig pateties.
Kevin is ’n oorversigtige en verliefde beheervraat. Hy is moeg vir al die speletjies waarin Wim hulle inpraat en voel of sy lewe ernstig oppad is nêrens heen. Sy beste vriend Wim daarenteen, is ’n mense-mens wat leef vir partytjie hou. Hy is verlief op sy snor en het ’n diep passie vir die tagtigs. Hulle groot droom is om hul eie koffiewinkel oop te maak. Maar Kevin raak frustreerd met Wim se laksheid. Hulle spaar al sewe jaar aan ’n tweejaar-spaarplan.
Aan die anderkant van die stad loop ’n vreemde transaksie lelik skeef. Die berugte juweelsmokkelaar Charles Gotty is sy vinger en ’n skeepsvraghouer vol diamante kwyt nadat hy deur een van sy handlangers verraai word. Sy twee seuns, Joe en Manny, moet dit soos Kaïn en Abel uitwoed om hul pa se vinger op te spoor om sodoende die familiebesigheid te verower.
Hierdie twee wêrelde kruis wanneer die verraaier, Tom, sy baadjie ingee om gewas te word. Wim oortuig Kevin om vir oulaas te gaan partytjie en om vir Nikki, die liefde van sy lewe, te probeer soen. Kevin stem in. Hy kies Tom se baadjie vir die partytjie. By die partytjie, ontdek Kevin iets in die baadjiesak: ’n Koue, afgekapte vinger met ’n yslike ring aan die ding. Hul lewens word in ’n oogwink omver gegooi.
Dinge ruk vinnig hand uit en Wim en Kevin word die beskuldigdes van ’n moord waaraan hulle geen aandeel het nie. Hulle moet vir Jackie, ’n venynige sekuriteitswag, opspoor om hulle onskuld te bewys. Kort op hulle hakke is twee broers met ’n rash, ’n blinde handlanger, twee top-polisiebeamptes en ’n ongenaakbare verraaier. En iewers staan ’n skeepsvraghouer met ’n kosbare vrag en wag vir die hele spul om toe te sak.
Klik hier en Vuil Wasgoed se Facebook-blad