Seagull Travel & Tours bied 30 April – 10 Mei 2020 ’n toer na Marokko aan en Vrouekeur gaan saam!
Vertrek op 30 April vanaf OR Tambo-lughawe in Johannesburg en land in die besonderse stad Casablanca. Die kosmopolitiese stad Rabat met sy palmlanings en koloniale argitektuur is volgende aan die beurt. Die toer vat jou verder na die blou-en-wit stad Chaouen, wat ‘n fotograaf se droom is. Leer die aand hoe om ‘n eksotiese Marokkaanse dis te maak en geniet dit daarna.
Fes, die geestelike en kulturele hartland van Marokko is volgende op die program. Sy biblioteke is legendaries en binne-in die hoë mure van die ou stad is daar ‘n bedrywige medina om te ontdek. Jy gaan jou verbeel jy is in ‘n fliek as jy eers Merzouga in die Saharawoestyn ontdek en dan boonop foto’s van die asemrowende rooskleurige rotsformasies van die Todra-ravyn kan neem …
Die toer vat jou ook deur die oase van die Dades-vallei, die land van rose, waar liters rooswater vervaardig word.
Besoek Ouarzazate, die ontwikkeldste stad suid van die Atlas, en daarna die dorpie Aït Ben Haddou, wat een van die bes bewaarde kasbah’s is en as ‘n wêrelderfenisgebied verklaar is. Die rolprent Lawrence of Arabia is hier verfilm.
Daarna ry jy deur die Atlas-gebergtes en ontdek Marrakesj, wat reeds in 1062 tot stand gekom het. Die stad was eers die hoofstad van ‘n koninkryk wat van Toledo tot Senegal gestrek het. Die bekende Koutoubia met sy minaret bevat ‘n verstommende versameling kuns. Die El Bahia-paleis is in die 19de eeu gebou en meer as 1 000 vakmanne het sewe jaar aan die paleis gewerk en jy gaan daardeur loop … Die beste manier om hierdie stad te ontdek, is egter deur die nou straatjies van die souks, wat ‘n inkopiemekka is. Nog ‘n kookles en heerlike ete wag vir jou by Riad Lotus Chef … Ons toer eindig hier, waarna dit terug Casablanca toe is en as jy weer sien is jy terug in Johannesburg met heerlike herinneringe, bultende sakke en baie foto’s …
Wat kos dit?
Landreëlings: 1 990 euro per persoon wat deel Ingesluit: 8 aande in 4*- of 5*-hotelle, ontbyt en aandete
Internasionale vlugte: ±R6 450 per persoon
Lughawebelasting: ±R7 400
Uitgesluit:
Fooitjies: 100 euro
Opsionele kameelrit in woestyn: 25 euro
Visumkoste: ±R700
Reisversekering (vir reisigers jonger as 70 jaar): ±R500
‘n Deposito van R5 000 per persoon en ‘n voltooide besprekingsvorm sal jou plek op die toer verseker. Die balans moet twee maande voor die toer betaal word. Pryse mag verander tot finale betaling ontvang is.