Blaai saam met ons deur die geskiedenisboeke en kyk hoe Kersfees oor die verskillende eeue gevier is
Deur ANSJA FERREIRA
Op 25 Desember word Kersdag regoor die wêreld gevier en dis ’n belangrike godsdienstige, kulturele asook sekulêre viering. Daar bestaan verskeie teorieë oor die oorsprong van Kerstradisies, simbole en gebruike.
’n Kykie in die geskiedenisboeke wys dat Europese midwinterfeeste ’n invloed op Kerstradisies soos ons dit vandag ken, gehad het.
Die Joelfees was ’n Noord-Europese fees waartydens die viering van die wintersonkeerpunt gevier was. (In die Noordelike Halfrond is die dae voor en ná 21 Desember die wintersonstilstand waartydens die dag- en naglengte nouliks verskil. Eers vanaf 25 Desember begin die daglengtes weer langer word.)
Een van die teorieë is dat Christensendelinge sekere van die tradisionele gebruike en simbole van Kersfees, soos die Kersboom en die gee van geskenke, vanuit hierdie fees aangepas of oorgeneem het.
Verskeie ander feeste is ook gedurende hierdie tyd van die jaar in verskeie lande gevier. In Duitsland het die Germane byvoorbeeld die god Odin gedurende die midwintertydperk vereer. In Rome, waar winters nie so straf soos dié in die verre noorde is nie, het hulle ’n fees ter ere van Saturnus, die god van die landbou, gevier. Ook in die tyd van die wintersonstilstand, was daar nog ’n Romeinse fees genaamd Juvenalia, ’n fees ter ere van die kinders van Rome.
LEES OOK: Kersfees agter tralies
In plaas van om te poog om die gewilde heidense feeste te onderdruk, het pous Gregorius I Christelike sendelinge toegelaat om daaraan ’n Christelike herinterpretasie te verleen.
Daar word geglo dat baie van die gewilde gebruike wat met Kersfees verband hou, onafhanklik ontwikkel het van die herdenking van Jesus se geboorte. Sekere elemente het hul oorsprong in die pre-Christelike feeste wat bevolkings, wat later tot bekering gekom het, rondom die wintersonstilstand gevier het.
In 350 NHJ, verklaar pous Julius I 25 Desember die amptelike datum van die geboortedag van Christus.
Kersfees is eers in 1870 in die Verenigde State van Amerika as ’n amptelike vakansiedag verklaar.
As ons verder deur die geskiedenisboeke blaai, sien ons dat Kersfees ook al verbied is. Kersfees in die Middeleeue was uitbundig en rumoerig en is baie soos vandag se Mardi Gras-partytjies gevier. Omdat hulle Kersfees as ’n dekadente Katolieke vakansiedag beskou het, het die Puriteine in Amerika alle Kersvieringe van 1659–1681 verbied met ’n boete van vyf sjielings vir elke oortreding. Toe die puritein Oliver Cromwell Engeland in 1645 oorgeneem het, het hy Kersfees verbied as deel van ’n Puriteinse poging om die land van morele verval te probeer verlos.
Toe Charles II van Engeland in sy troon herstel is, het hy Kersfees weer ingestel.
Kersfees deur die eeue in Engeland
Middeleeue
Die welgesteldes het vir hul Kersete gans en wildehoender en met die toestemming van die koning ook swaan geëet. Dit is met botter en saffraan bedek en dan gerooster. Die armes kon soms gans by die kerk kry hoewel dit hulle sewe pennies oftewel ’n dagloon gekos het. Wildsvleis was ook op die spyskaart vir die rykes en soms is die armes toegelaat om die oorskietdele van die takbokke te kry – soos die hart, lewer, tong, ore en brein – bekend as “umbles”. Gemeng met alles wat ’n kok in die hande kon kry, was dit in ’n pastei omskep – bekend as “umble pie”. Dis ook waar die uitdrukking oor humble pie vandaan kom. Kerspoedings is van dik pap, korente, gedroogde vrugte, eiergeel en speserye gemaak.
Elizabethaanse era
Tydens die bewind van Elizabeth II was die Kersete ’n hoogtepunt van die feestyd. In huishoudings wat dit kon bekostig, het sulke feeste ’n banket met soet en kleurryke lekkernye ingesluit. Hulle het “lamswol”, gemaak van warm appelbier, speserye en appels, gedrink. Appels wat “ontplof” het as dit verhit is, het ’n wit, wollerige bokant geskep.
Georgiaanse tyd
In die 18de en 19de eeu was 5 Januarie, oftewel Twaalfde Nag, een van die belangrikste datums op die feestelike kalender – danksy die soet lekkerny bekend as Twaalfde Nag-koek. Die nagereg was die kern van Twaalfde Nag-partytjies wat eet, drink en speletjies behels het. As ’n voorloper van vandag se Kerskoek, het die Twaalfde Nag-koek tradisioneel ’n gedroogde boontjie en ’n gedroogde ertjie bevat. Die man wie se skyfie koek die boontjie bevat het, is as koning vir die nag gekies en die vrou wie se skyfie die ertjie bevat het, as koningin.
Victoriaanse tyd
Toe koningin Victoria die troon in 1837 bestyg het, kon min gesinne kalkoen of hoender vir Kersete bekostig. In die noorde van Engeland is geroosterde beesvleis algemeen op Kersdag bedien, terwyl in Londen en die suide van Engeland gans ’n gunsteling was. Diegene wat te arm was om vleis of hoender te bekostig, het haas geëet. Teen die einde van die 19de eeu het die meeste mense kalkoen vir Kersete geniet. Aan die begin van die Victoriaanse era is pasteie met vleis gemaak, maar soos die 19de eeu gevorder het, het mengsels sonder vleis gewilder geraak, wat gelei het tot die Kerspasteie wat ons vandag ken.
Tydens die Tweede Wêreldoorlog
Tydens die oorlog was kalkoen nie beskikbaar nie. Families wat dit in die hande kon kry, het hoender vir die Kersete geniet. As hoender nie beskikbaar was nie, moes mense maar met skaapvleis of haas regkom. Daar was weens rantsoenering, ook ’n tekort aan ander voedselsoorte wat nou algemeen tydens Kersfees geëet word, soos sjokolade, vrugte, lekkers en sjerrie. Om hul gemoed egter te probeer lig, het baie families “voorgee”-Kersfeeskos geskep soos om kammakalkoen van lamsvleis te maak.
Kersfees vandag
Suid-Afrika
Kersfees val natuurlik by ons in die somer en die skole is gesluit. Baie mense is dan by hul vakansiebestemmings waar hulle Kersdag in die buitelug of op die strand of by hul huis of ’n restaurant vier. Talle vier Kersfees saam met hul familie en tradisionele kos soos kalkoen, vleisdisse, groente, rys en aartappels word voorberei en geniet. Koue vleis en slaai is ook gewild. Ander verkies om te braai en die warm weer te benut. Vir poeding is koekstruif, malvapoeding en vla en vrugteslaai met roomys gewilde keuses. Maria* (nou 73) vertel van haar Kersfees toe sy nog ’n kind was: “Ouma en Oupa het in ’n groot kliphuis op ’n plaas op Sandspruit gebly en hulle het van die dorp af plaas toe getrek. Ons het elke Kersfees daar deurgebring. Ouma het altyd voor die tyd heerlike eetgoed gemaak en vir die Kersete het sy altyd tiekiepoeding gemaak en ’n groot Kersboom met liggies gehad. Oukersaand het ons geskenke gekry.”
Australië
“Ons het ook ’n Somerkersfees,” sê Zelia Joubert, ’n leser wat in Australië woon, “seekos is groot en garnale is die in-ding hier op Kersdag.”
Duitsland
Elmarie Erasmus Fischer woon in Duitsland. “Iets wat nogal gewild is in Pole, Duitsland en ook in Oostenryk, is Knödel. Dit word saam met die hoofmaal geniet en word uit meelagtige aartappels gemaak, wat fyngestamp word, met eier gemeng en tot ’n soort elastiese deeg geknie word. Dan word daar in die middel ’n pruim of ou broodkrummels ingedruk. Dit word in amper-kookwater gegooi en dan vinnig op die tafel gesit. Rooikool is ook baie gewild. Die Duitsers glo jy moet ’n regte, egte naaldboom as Kersboom gebruik. Ek verstaan die versierings verskil van land tot land. In Bulgarye word strooi en droë gras in die hele sitkamer gegooi – dit is om aan die stal te dink waarin Jesus gebore is. Die Duitsers is erg oor Kersfees en die huise word pragtig versier.”
Frankryk
In Frankryk word die staltoneel dikwels gebruik om die huis te versier en kan uit kleifigure bestaan. Gedurende Desember word dit in sommige dorpe en stede, soos Marseille, verkoop. In die Franse tonele is daar dikwels ook figure soos ’n slagter, ’n bakker, ’n polisieman en ’n priester. Yule-houtstompe gemaak uit kershout word dikwels in Franse huise gebrand. Die hout word op Oukersaand in die huis ingebring en met rooiwyn bespat om dit lekker te laat ruik wanneer dit brand. Daar is ’n gewoonte dat die hout en kerse die hele nag brand en kos en drinkgoed word neergesit, ingeval “Maria en die baba Jesus dalk in die nag verbykom”. Die belangrikste Kersete, genoem Reveillon, word op Oukersaand geëet of nadat mense teruggekeer het van die middernagerediens. Geregte kan gebraaide kalkoen of gebraaide gans, oesters, foie gras, kreef, wildsvleis en kaas insluit. Vir nagereg, word ’n sjokoladesponskoek bekend as ’n “Buche de Noël” gewoonlik geëet.
Finland
In Finland word die storie vir kinders vertel dat wanneer Kersvader Finland besoek, hy sy slee agtergelaat en op ’n bok ry wat Ukko genoem word. Volgens Finse volksoorleweringe is Ukko van strooi gemaak, maar hy is sterk genoeg om vir Kersvader te kan dra.
Sirië
Daar word geglo dat Kersgeskenke deur een van die wyse manne se kamele versprei word. Hierdie kameel is glo die kleinste kameel in die wyse manne se karavaan kamele.
China
Kersfees is nie ’n amptelike vakansiedag in China nie en die meeste kantore, skole en winkels bly oop. Al die tierlantyntjies van ’n Westerse Kersfees kan egter in China, Hongkong, Macau en Taiwan gevind word. Afdelingswinkels word aan die einde van November met Kersbome, flikkerende ligte en feestelike versierings getooi. Winkelpersoneel dra dikwels Kershoede en groen en rooi bykomstighede. Dit is nie ongewoon om diep in Februarie steeds oorskietversierings te sien of in Julie Kersmusiek by kafees te hoor nie. Terwyl China baie Kersfees-geïnspireerde produkte uitvoer, van plastiekspeelgoed tot ornamente, verkies baie gesinne slegs ’n klein Kersboom. Min huise het liggies buite.
*Skuilnaam
Bronne: www.whychristmas.com, www. factretriever.com, http://chineseculture.about.com, www.history.com