Daar wag vanaand ’n skouspel op ruimtegeesdriftiges. Theresa van Baalen vertel meer
Verwag hierdie Desember ’n toweragtige skouspel van verskietende sterre. Die Geminides is ’n meteoorreën wat elke jaar vanaf ongeveer 7 tot 17 Desember sy opwagting maak. Dit word as een van die heel beste jaarlikse meteoorreëns beskou, beslis die beste in die Suidelike Halfrond, want die afsonderlike meteore is helder en tydens die hoogtepunt kan uurliks tot 120 van hierdie “verskietende sterre” gesien word wat deur die lug streep. Onder helderverligte toestande, soos met ’n volmaan, of baie straatligte, sal minder meteore egter sigbaar wees.
Die piektyd van die 2017-vertoning word vir Woensdagaand 13 Desember en die vroeë oggendure van Donderdag die 14de voorspel. Verlede jaar het die piek met ’n volmaan saamgeval, en net die helderste meteore was sigbaar, maar hierdie jaar se afnemende sekelmaan en donkerder toestande behoort vir ’n baie bevredigende vertoning te sorg.
Die Geminides het die eerste keer in die middel-1800’s hul verskyning gemaak, maar toe was dit nie werklik indrukwekkend nie, met skaars tien tot 20 meteore wat per uur gesien is. Die intensiteit het deur die jare toegeneem, en vandag is dit een van die merkwaardigste meteoorreëns wat daar is. Die gebeurtenis het sy naam aan die konstellasie Gemini te danke, omdat die reën se uitstralingspunt in Gemini geleë is. Dit beteken dat as jy daardie verskietende ster se streep terugvolg tot by sy oorsprong, sal dit lyk of dit uit die omgewing van die ster Castor in die Gemini-konstellasie afkomstig is. Anders as die meeste ander meteoorreëns, word die Geminides nie met ’n komeet geassosieer nie, maar met ’n asteroïede, genaamd 3200 Phaethon.
Die moontlikheid bestaan dat hierdie asteroïede eens op ’n tyd in ’n botsing met ’n ander voorwerp betrokke was, wat die stroom partikels verklaar wat die aarde elke jaar in Desember teëkom.
Waar kan jy die Geminides sien?
Die Geminides kan van oral in die wêreld af dopgehou word. Al mag dit lyk of hierdie meteore hul ontstaan in die noorde in Gemini het, kan hulle enige plek in die lug sigbaar raak, en dis nie nodig om in ’n spesifieke rigting te kyk om ’n meteoorreën te geniet nie.
Vir die beste resultate moet jy eintlik ’n entjie weg van Gemini af kyk, sodat jy die meteore met die langer “sterte” ook kan sien as hulle verbystreep. Deur direk na Gemini te staar, gaan jy net die meteore sien wat nie baie ver trek nie. Jy het nie ’n verkyker of ’n teleskoop nodig om ’n meteoorreën dop te hou nie, net jou blote oë. Dra natuurlik gerus jou bril as jy bysiende is!
Hier is raad vir hoe om die meeste uit die ondervinding te put:
- Indien moontlik, vind ’n plek ver weg van die stad waar elektriese ligte nie die sig sal bederf nie. Jy sal wel sommige meteore uit jou agterplaas kan sien, ongeag die hoeveelheid kunsmatige beligting, maar as jy regtig die maksimum hoeveelheid meteore wil sien, moet die aand so donker as moontlik wees.
- Hou ’n kombers of ’n gemaklike stoel byderhand. Om meteore dop te hou, vat tyd. Buitendien sal jy dalk nie wíl ophou kyk voor die majestueuse hemelse vuurwerkvertoning verby is nie. Die gemaklikste manier om die Geminides dop te hou, is deur bloot op jou rug te lê en boontoe te kyk. As jy wil staan of regop sit, is dit dalk raadsaam om in ’n noord-noordoostelike rigting te kyk, in die algemene rigting waar ons Gemini in die suidelike halfrond vind.
- Maak vooraf seker oor die weer en die tyd wat die maan opkom en sak, en beplan jou besigtiging daar rondom. Die afnemende sekelmaan gaan nie ’n groot invloed hê tydens die Geminides se piek nie, maar as dit bewolk is, gaan jy beslis niks sien voor die wolke nie wegtrek nie.
Meteoorreën
Het jy geweet dat verskeie meteoorreëns op verskillende tye van die jaar waargeneem kan word en dat die datums met redelike akkuraatheid voorspel kan word? Daardie verskietende sterre wat jy uit jou kinderdae saam met jou ma en pa onder die naghemel onthou, het dalk nie so toevallig en lukraak gebeur soos jy gedink het nie!
Meteoorreëns word veroorsaak deur stof en ander partikels wat deur komete en asteroïdes op hul wentelbane om die son agtergelaat word. Die aarde beweeg een keer per jaar deur elk van hierdie hemelliggame se trajekte, min of meer op dieselfde datum elke jaar, en daarom kan ons met groot akkuraatheid voorspel wanneer om ’n spesifieke meteoorreën te wagte te wees. Sommige meteoorreëns kan slegs vanuit óf die Suidelike Halfrond, óf die Noordelike Halfrond waargeneem word, terwyl ander oral in die wêreld sigbaar is.
Ander meteoorreëns
Hoe gemaak as jy die Geminides misloop? As ’n spesiale Kersgeskenk bring Desember vir ons ook die Comae Berenicids, ’n minder indrukwekkende meteoorreën wat in Suid-Afrika sigbaar sal wees. Dit is aktief van 12 Desember tot 23 Januarie, met die piek net betyds vir Kersfees op die aand van die 25ste. Hierdie meteoorreën lewer maar gemiddeld vyf meteore per uur, maar as jy geduldig is, sál jy jou verskietende ster sien. Kyk in ’n noordoostelike rigting.
Eta Aquariïdes is naas die Geminides die meteoorreën wat die meeste meteore in die Suidelike Halfrond oplewer. Hierdie reën is die gevolg van die aarde wat deur Halley se wentelbaan beweeg en die stof en oorblyfsels teëkom wat die komeet agtergelaat het die laaste keer toe sy wentelbaan dié van die aarde gekruis het. Die Eta Aquariïde-meteoorreën vind gewoonlik tussen 19 April en 28 Mei plaas, met die piek rondom die 5de of 6de Mei. Dit lewer nagenoeg 40 meteore per uur tydens die piektyd.
Verskietende sterre, meteoroïede, meteore en meteoriete
’n Verskietende ster is allesbehalwe ’n ster. Die regte naam daarvoor is eintlik ’n meteoor. Meteoroïede is klein stofdeeltjies, klip of stukkies ys wat deur die ruimte beweeg. Wanneer ’n meteoroïed die aarde se atmosfeer binnedring en sigbaar word, word dit ’n meteoor genoem, of dan ’n verskietende ster. Ons kan dit sien danksy die spoed waarteen die deeltjie beweeg en die wrywing wat plaasvind, wat veroorsaak dat dit begin gloei en dikwels uitbrand. As ’n meteoor nie uitbrand nie en dit land op die aarde, word dit ’n meteoriet genoem. ’n Klomp meteore wat op dieselfde aand of oor die bestek van opeenvolgende dae gesien kan word, en wat klaarblyklik van dieselfde uitstralingspunt afkomstig is, word ’n meteoorreën (meteor shower) genoem.
Volgens Wikipedia dring sowat 15 000 ton meteoroïede, ruimtestof en verskeie soorte afval jaarliks die aarde se atmosfeer binne!