Die nuwe kookboek, Tuistafel deur Errieda du Toit, is verlede week by Nerf-Af Waterbankie in Bellville bekend gestel. Die boek het pas by Human & Rousseau verskyn
Woorde: Maryke Roberts
Foto’s: Clifford Roberts
Roelien Booysen, die grafiese kunstenaar wat die boek illustreer het, het spesiaal uit Taiwan gevlieg vir die bekendstelling. Die eetgoed vir die dag is deur Martjie Malan gebak. Martjie was die naaswenner van Koekedoor se eerste reeks.
Tuistafel trek jou in met kosmaak se klein en groot plesiere – of dit ’n eenvoudige onthoukos-gereg of ’n feesmaal saam met kleurryke kosvriende is. Die boek bevat resepte fyn gestippel met familie- en kindsbeenkos. Kos van verlange soos melkkos vat hande met avontuurlike eetplesiere soos roomystoebroodjies uit Korea.
Errieda het aan gaste vertel dat dit ’n boek vol stories, ’n samestelling van haar kos, haar ma se kos, haar man en haar mense se kos is. Die bekendstelling gebeur om ’n tafel, waar jy kan tuis voel en deel.
Errieda is ’n bekende in koskringe en een van die meesterbreine agter Kokkedoor en Koekedoor. Sy het kooktegnieke – van die basiese tot die gevorderde – bemeester en meng tradisie met hope kreatiwiteit om nostalgiese resepte vir die toekoms te herskep. Haar vorige boeke sluit in die gewilde Huiskok glanskok. Sy het ’n program op RSG en skryf gereeld vir ’n reeks drukmedia sowel as aanlyn.
Errieda, haar man, Ian, wat ook die fotograaf was en Roelien, het almal hul reis met die boek met gaste gedeel.
Roelien is die afgelope ses jaar in Taiwan en het vertel hoe sy verlede jaar ’n “Afrikaanse” pastei gesoek het, om vir haar en haar vriende te bak om Kersfees in die vreemde te vier. Sy het op Errieda se hoenderpastei-resep op die internet afgekom en dit was ’n gunsteling op die Kerstafel. Sy het die pastei illustreer en toevallig vir Errieda op Instagram daarvan laat weet. Errieda was mal daaroor en het besluit dat Roelien die hele boek moet illustreer.
Die bekendstelling is in Bellville – aan die verkeerde kant van die spoorlyn – gehou, het Errieda vertel, omdat sy ook aan die verkeerde kant van die spoorlyn grootgeword het. “Oorkant die pad is die woonstel waarin my ouboet en kosmaat, Theo Espost en sy vrou na hul troue gewoon het. Hy is ’n paar jaar terug skielik oorlede, maar hy was my kosmaat.”
Errieda sê ná sy dood as oudste seun, het sy die bewaarder van hul ma, Inez, se resepte en kos-geheime geword. “Ons staan vandag hier in Nerf-Af, want my paadjie kom al lank aan met die eienaar, Serina Chambers en ek het al haar winkel ’n paar keer leeggekoop. Maar ons staan ook hier in Bellville, omdat dit ’n cool, great plek is,” het Errieda vertel.
Errieda du Toit en Martjie Malan.
Mari-Loui Guy se sak-en-as koek.
Roelien Booysen, die grafiese kunstenaar wat die boek illustreer het en Ian du Toit, Errieda se man, wat ook die foto’s vir die boek geneem het.
Gaste smul aan die tuisgebak deur Martjie Malan, van die boek se resepte, wat sy self ’n kinkel of twee kon gee.