Tien vrae aan Liesel Kasseman van Kasselshoop, die bekroonde kaasplaas buite Stilbaai, wat vanjaar hul 15de SA Kaasfees meemaak:
1. Watter uitbreidings beplan julle vir 2018 en wat kan mense alles by julle by die Kaasfees proe?
In 2018 is ons hoofdoel om die kaasfabriek so groen as moontlik te kry deur middel van sonkraginstallasie. Ons gaan hierdie jaar ook ons nuwe verpakking kaaspakkies van stapel stuur.
2. Wie van julle is by die Kaasfees vanjaar?
Nicolette Franklin en Monrico Lupini gaan die span lei van vier van ons eie personeel wat met oorgawe kan gesels oor wat presies ons by Kasselshoop doen.
3. Hoekom gaan julle elke jaar terug Kaasfees toe? Wat baat dit julle en hoekom geniet julle dit?
Ons sien die Kaasfees as ons vennoot, veral ten opsigte van bemarking. In die afgelope 15 jaar was die fees die platform waar ons as klein, groeiende onderneming, marknavorsing kon doen en ook ons nuwe produkte kon bekendstel.
4. Waar kom die idees vir nuwekaas vandaan en hoe toets julle dit?
Kassie doen die produkontwikkeling en hy doen heelwat navorsing ten opsigte van die neigings in die mark en eksperimenteer met produkte wat saam met die kaas werk.
5. Wie het jul gepekelde uie-kaas die eerste maal “braaibroodjie”-kaas genoem?
Die Stilbaaiers het met die naam braaibroodjie kaas vorendag gekom.
6. Hoeveel melk is nodig om een kilogram kaas te maak en verdamp/krimp dit ook soos dit verouder?
10 liter melk word vir ’n kilogram kaas gebruik. Die kaas krinp nie soos dit verouder nie.
7. Hoe lank word die verskillende kase verouder?
Ons verouder al ons kaas vir ses weke, voor ons dit verpak om te verkoop.
8. Wat is die grootste uitdaging van ’n melk- en kaasboerdery?
Om voorbereid en pro-aktief te wees vir die siklusse in die mark, beide ten opsigte van produksie asook finansieel.
9. Sal julle jul koeie vermeerder van 160 af?
Nee, ons wil graag volle beheer behou oor die gehalte en die integriteit van die produk en dit sal moeilik wees om te doen met ’n groter kudde.
10. Waar kom die bestanddele soos die uie, netels en so meer, vir jul kaas vandaan?
Ons hoofdoel is om al ons bestanddele plaaslik te koop, maar sommige produkte word egter nie in Suid-Afrika sonder radiasie gedroog nie en daarom kry ons onder meer die brandnetel van Nederland en die peper van Indië, maar al die ander byvoegings kry ons in Suid-Afrika.