Daar is min dinge so lekker soos ‘n soel aand op Stellenbosch, vlaggies wat vrolik tussen akkerbome wapper, goeie wyn, kos en musiek.
Maryke Roberts
En jy het nog drie geleenthede vir dié gewilde kos-en-wynkultuur-aande met die tweemaandelikse Straat Soirees. By die onlangse een het die Kayamandi Singers die voete laat saamtik.
Die Stellenbosch Straat Soiree word in Drostdystraat gehou, wanneer karre en fietse plek sal maak vir inwoners en besoekers om te proe en deel in ‘n stukkie van die ‘Stellenbosch Leefstyl’, in die straat en op die sypaadjies. Dit is ‘n opgeruimde, sosiale straatkuier waar vreemdes vriende raak oor ‘n glasie wyn met iets te peusel in die hand, en musiekvermaak wat tot ‘n feestelike atmosfeer bydra.
Die buitelug makieties vind plaas vanaf 18:00 tot 20:00. Vir R70 kry jy ‘n wynglas en geleentheid om na hartelus al die wyne te proe en daar is ook heerlike straatkos te koop.
Die laaste drie Stellenbosch Straat Soirees datums vir die somer is 24 Februarie; 9 & 23 Maart.
Vir meer inligting, bel 021 886 4310, besoek www.wineroute.co.za, volg die Stellenbosch Wynroetes op Twitter @StellWineRoute of sluit aan by hul Facebook-blad STBStreetSoirees. #VisitStellenbosch
‘n Gedeelte van Drostdystraat word afgesper vir motors en fietse.
Die gawe vroue van Chrisna’s Olives is Chrisna Pepler en haar dogter, Sarah.
SOURCES
Clifford Roberts