Kristel Loots kyk na die verwoestende gevolge van verwerping in ons 11 Julie-uitgawe. Prof Kobus Maree gesels hier verder oor die rol van ouers en onderwysers by verwerping
Prof Kobus Maree, opvoedkundige sielkundige verbonde aan die Universiteit van Pretoria, wys daarop dat ouers en onderwysers ’n verpligting het om ’n kind wat verwerp word te identifiseer.
Dis gewoonlik die weerloosste kinders wat geteiken word, die wat niks of bitter min kan doen om hulself te verdedig. Daardie outjie wat nie vir sy regte kan veg en homself in geselskap kan handhaaf nie, is dikwels uiters kwesbaar en word maklik deur die res van sy gesinslede of deur sy maats verwerp.
Daar is altyd sekere kategorieë; mense wat meer hieraan blootgestel is as ander. Hierdie uitgeworpenes het die hulp van ’n gesagsfiguur nodig om op die been te kom.
“Onderwysers behoort opgelei te word om daardie kind in die klas of selfs op die skoolgrond te identifiseer en moeite te doen om hom of haar nader te trek.”
Soms is dit wel nodig vir ’n onderwyser of ouer om hul stem dik te maak. “Maak net seker dat kinders weet dis hul gedrag wat jy verwerp, nie die kind as mens nie,” gee prof Kobus raad.
“Jy kan dit duidelik stel dat die drinkery of vloekery nie geduld gaan word nie en selfs dit met die kind onderhandel, maar dit moet tog aan die kind oorgedra word dat jy steeds vir hom of haar lief is. Onvoorwaardelik.
Wanneer kinders en later volwassenes deur hul tydgenote uitgestoot word, bly ’n groot deel van hul menswees in die slag.
Volgens prof Kobus draai die lewe om menseverhoudings en as jy dit nie kan handhaaf nie, verloor die lewe vir jou betekenis. Niemand hou van my nie en niemand het my lief nie, is ’n verwoestende besef. “Mense wat verwerp word, raak soms desperaat-wanhopig genoeg om hul eie lewe te neem.”
Enige vorm van verwerping is verwerplik en moenie toegelaat word nie. Dit kan in ’n taktvolle wyse oorgedra word. “Ek hou nie van jou nie,” maak dit duidelik dat jy ‘nie goed genoeg’ is nie, maar verwerping kan ook indirek wees. Iemand gee voor om jou vriend te wees en steek jou dan in die rug. En natuurlik om nie na ’n partytjie toe genooi te word nie, kan vir ’n kind ook hartverskeurend wees.