Jou kind weier om skool toe te gaan. Is dit sommer net stoutigheid of moet jy dieper delf? vra Ansja Ferreira in ons 25 Julie-uitgawe.
Ansja Ferreira
Dr Kirsten du Toit, ‘n maatskaplike werker en spelterapeut wat in kinderberading spesialiseer, gesels hier verder oor hoe jou kind by spelterapie kan baat.
“Tydens spelterapie word die kind wat nie skool toe wil gaan nie eers op grond van sy gesinstelsel, onderwysers en maats by die skool geassesseer. Die wortel van die probleem word geïdentifiseer.
“Spelterapie strek oor ‘n minimum van ses sessies van een uur elk, verkieslik een maal per week. Dit hang natuurlik af wat die mate van trauma is waaraan die kind blootgestel was om die aantal sessies te bepaal. Die ouers word ook met ouerleidingsessies betrek. Gewoonlik kan daar reeds tydens spelterapie se beginfases vasgestel word wat die rede van die kind se vrees is. Die kind word bemagtig ten opsigte van sy of haar sosio-emosionele ontwikkeling,” verduidelik dr Kirsten.
“Wanneer daar met perde in terapie gewerk word, is daar ‘n besonderse vertrouensverhouding wat tussen kind en dier ontstaan. Perde kan nie kritiseer nie en die kind word totaal deur hierdie wonderlike diere aanvaar. Die perde word as hulpmiddel benut om vir die kind verantwoordelikhede aan te leer.
“Tydens spelterapie ry die kind self nie op die perd nie (dus nie ‘n ryskool nie!), maar word die kind blootgestel aan sensoriese blootstelling van die perd soos om die perd te borsel en saam met die perd rond te loop.
“‘n Gesonde balans van hantering van emosies, keuses en verantwoordelikhede word vir die kind aangeleer om sodoende hom of haar te help om weer makliker skool toe te kan gaan. Soos die kind bemagtig word om beheer van sy of haar emosies te neem, verminder die vrees vir skool toe gaan,” sê sy.